Kom ons wees eerlik, soms is jy eenvoudig net te platsak om weg te gaan vir die vakansie of oor ‘n langnaweek. Die see is te ver, die wildtuin te duur, Sun City te besig en alles net te té. Wat doen jy as jy moet tuis bly, maar jou voete jeuk om die pad te vat?

Dis eenvoudig: hou jou lyf toeris in jou eie dorp of stad.

Om te reis is nie altyd om in die langpad te val na êrens elders nie. “Reis” hoef nie noodwendig die vind van die self in “eksotiese” of “beter” plekke te wees nie. Dink vir ‘n slag bietjie “local” en kyk net hoe lekker jy nog kan reis naby aan jou eie huis.

Hoe goed ken jy jou dorp, stad of nedersetting? Hoekom gaan verken jy nie vir ‘n slag die hoekies, draaitjies en stegies reg onder jou neus nie? Doen dinge so bietjie anders en voel soos ‘n reisiger in jou eie agterplaas.

Hier is ‘n paar wenke vir platsak-tuisbly-toeriste.

1. Ontmoet nuwe mense

Op reis ontmoet mens altyd nuwe mense – soms ook mense saam met wie jy lekker sal kan kuier. Maak ‘n punt daarvan om nuwe mense in jou tuisdorp te ontmoet en kyk bietjie deur hulle oë na jou tuisdorp. (Hmm … dit is seker nie werklik nodig om hier te noem dat jy ook veilig moet wees nie, is dit?)

2. Gebruik alternatiewe vervoer

As jou dorp of stad ‘n veilige busdiens het, koop ‘n kaartjie en ry bietjie rond. Jy sal verbaas wees wat jy als raaksien as jy nie self bestuur nie. Stof ook gewoon jou trapfiets af en laat die wiele rol – as jy stadiger ry, sien mens altyd meer. As jy die tipe “grootmens” is wat met ‘n skaatsplank van die sypaadjie afspring, doe zo voort, vriend – die punt is om ou dinge op ‘n nuwe manier te sien.

3. Google is jou beste pêl

Kyk, daar ís baie katfoto’s op die internet, maar Google weet waarskynlik ook dinge van jou eie tuisdorp wat jy nooit geweet het nie. Slaan die dorp se geskiedenis na, vind ook uit of daar gratis of goedkoop doendinge in die omgewing is. Beplan jou uitstappies met behulp van die internet. Ongelukkig is tannie Google se Afrikaans nie goed nie, so tik liefs in Engels vir beter resultate. Gebruik ook woorde wat die Google-soekenjin help om te vind wat jy wil hê: Woorde soos “AND” tussen twee sleutelwoorde (Cape Town AND Easter weekend), en aanhalingstekens (“…”) om ‘n hele frase te soek (“Free things to do in Bloemfontein”).

4. Navorsing op vreemde plekke

Die plaaslike koerant is ‘n skatkis van inligting oor doendinge in jou area. Facebook en ander sosiale netwerke het waarskynlik ook al ‘n groep of twee waar mense doendinge en wenke oor jou omgewing uitruil. Gryp ook ‘n paar pamflette by die vulstasie wat gewoonlik net deur toeriste deurgeblaai word. Dit bied goeie inligting oor lekker dinge om in die area te doen.

5. Kliek!

Reis jy ooit sonder jou kamera? Nee! Vat hom saam. Neem foto’s van al die vervelige standbeelde, geboue en besienswaardighede wat jy al miljoene kere vantevore gesien het – dinge lyk altyd anders op ‘n foto en dalk sit dit weer bietjie kleur in oudpresident Kruger se bakkies. As jy alleen reis, neem ‘n “ekkiekie.” Ja, wees dáái tipe toeris wat haarself, of homself, afneem terwyl jy ‘n sny sjokoladekoek verorber – dis immers jou aftyd?

6. Gaan op ‘n toer van ‘n ander aard

Vra een van jou vriende om jou na sy, of haar, gunsteling-plekke in die dorp te neem. Almal het daai plekkies wat hulle graag besoek – die hipster koffiewinkel, die getroue Sjinese restaurant met sy lekker kluitjies, die ouwêreldse teetuin met die hemelse skons, of die obskure kunsgalery. Laat hy of sy vir jou vertel hoekom hierdie plekke op die lysie is.

7.  Speel toergids

Nooi ‘n vriend van ‘n ander dorp  en speel self toergids. Dit bied nie net die geleentheid om jou gunsteling plekke vir hom of haar te wys nie, maar ook om kreatief te wees met al die doendinge in die omgewing.

8. As jy moeg word vir die lewe in die stad

Dorp of stad, die kanse is baie goed dat jou plekkie ‘n baie unieke buitelugbestemming het waar jy jou dag kan spandeer. ‘n Wandelpad, bergfietsroete, piekniekplek of uitsig … Waarom alewig sulke plekke in vreemde dorpe besoek, maar nooit in jou eie nie?

9. Wat maak jóú dorp uniek?

Is daar iets wat slegs in jou dorp of stad te vinde is, iets waarmee die dorpskoerant en die tannies by die tuisnywerheid graag spog? ‘n Monument wat gesien moet word, ‘n doending van ‘n ander kleur, ‘n uitsig wat so mooi is dat jou selfoon se 20 megapieksel-kamera dit nie kan vasvang nie? Waarvoor wag jy? Daai is immers jóú agterplaas!

Nou toe, daar het jy dit. As die geld te min is en die verveling te veel, val in die pad en slaap die aand nog in jou eie bed. Dis klein dingetjies wat die gewone ou “gaan” nes “weggaan” kan laat voel.

Het jy enige ander wenke om by hierdie te voeg? Lewer kommentaar en maak ander tuisbly-toeriste se ervaring nog lekkerder.

* Het jy geweet ons eie “Doe so voort” is afkomstig van die Nederlandse “Doe zo voort.” Dis darem lekker om so kop in een mus te wees met ons sustertaal in Europa!