Die tasse is gepak, die motor is vol brandstof en die padkos is gemaak, al wat nou tussen jou en jou vakansie lê … is die langpad! Met soveel gaste wat blyplek deur LekkeSlaap.co.za bespreek het, het ons besluit om so paar vinnige wakkerbly-wenke uit die mou te laat. So maak seker jy bly kiertsregop en so wakker soos ‘n arend tewyl die wiele rol.

Begin met ‘n voorsprong

Maak seker jy kry genoeg slaap die aand voor jy vertrek. Beplan jou dinge mooi sodat jy genoeg tyd het om te pak en steeds vroeg in die kooi kan wees.

Moenie drink vóór jy bestuur nie

Vermy alkohol die dag, of aand voor jy ry. Niemand hou daarvan om met ‘n dikkop te bestuur nie, en dit kan lei tot slaperigheid en ‘n gebrek aan konsentrasie.

As jy moeg is, stop, rus

Indien jy ver gaan ry, maak seker jy stop so elke nou en dan om ‘n blaaskans te vat, te strek, asem te skep en jou oë te rus. Stop so elke twee ure, vir om en by 15 – 20 minute op ‘n slag. Buiten die lekke rek-en-strek en asemskep, sal dit ook goed wees vir jou bloedsomloop.

Maak beurte om te bestuur

‘n Saamryklub is nie net lekke pret nie, dis ook veilig. Indien een of meer van jou passasiers ook ‘n bestuurslisensie het, maak beurte om te bestuur. Bo en behalwe die beurte maak, kan julle ook lekke speletjies speel, saam sing en mekaar beter leer ken.

Drink koffie

Hierdie is nie net ‘n maklike wenk nie, dis dalk ook die lekke’ste een! Die kafeiëne sal help om jou wakker en paraat hou, en elkgeval, wat is meer eie aan ‘n road trip, as ‘n koffiefles!?

Magie vol … ogies toe!

Dié wenk het eintlik nie baie verduideliking nodig nie. Ons almal ken die gevoel. Vermy ‘n groot bord kos voor jy ry, en moet ook nie groot porsies padkos eet nie. Groot maaltye maak ‘n mens moeg, so kies eerder ander gesonde peuselhappies soos biltong, gedroogte of vars vrugte, springmielies of neute.

Verandering bring opwinding …

Jou kar kan help om jou op en wakker te hou. Ja, jy het reg gelees! Maak gereeld die vensters oop om vars lug in te laat. Skakel jou lugversorging aan, luister na verskillende radiostasies, speel met die volume, en probeer om kruisspoedreëling (cruise control) te vermy omdat dit jou konsentrasievlakke kan laat afneem.

Wees ‘n Jakob Regop

Jou postuur speel ook ‘n groot rol wanneer dit kom by wakker bly. Hou jou kop regop, skouers terug, en maak seker jou agterstewe is ferm en stewig teenaan die onder- en agterkant van jou sitplek. Jou bene moet ook nie reguit wees nie, maar gebuig teen ‘n hoek van 45°.

Volg die oulike wakker-bly-wenke en laat die LekkeSlaap wag vir waneer jy by jou bestemming kom!

 

Hier is ook so paar ander lekke langpadwenke, lekke speletjies om in die kar te speel, en sodra die rooimiere en lam spiere begin pla, het ons ook lekke strekoefeninge vir jou om jou litte los te maak.

 

Hooffoto: vanaf Flickr: langpad deur Notnyt, ander bronne op foto’s in teks.