Wat ons land se natuurskoon betref, is daar veral twee eienskappe wat uitstaan: seldsame wild en ongerepte kuslyn. Suid-Afrika is die enigste Afrika-land wat spog met die Groot 7. Buffels, luiperds, renosters, leeus, olifante, noordkapperwalvisse én grootwithaaie het almal Suid-Afrikaanse burgerskap. LekkeSlaap het ’n paar bestemmings opgespoor waar jy ’n wild- en seevakansie kan kombineer!  

Weskus

Draaihoek Lodge & Restaurant is op ’n privaat natuurreservaat naby Elandsbaai waar jy elande, koedoes, swartwildebeeste en bergsebras kan gewaar. Wat dié reservaat so besonders maak is die San-rotskuns wat in sy grotte behoue gebly het, asook sy helder blommekombers in die lente.

Die Weskus Nasionale Park spog nie net met elande, bontebokke, rooihartebeeste en bergsebras nie, maar ook kosbare marienereservate. Besoekers kan veral daarna uitsien om die flaminke en pelikane se doen en late van die Geelbekskuiling af dop te hou.

By Kraalbaai Luxury Houseboats kan jy Langebaan se strandmeer eerstehands ervaar. Of as jy graag tydelik bande met die beskawing wil breek, sal jy dalk by Duinepos Chalets aanklank vind. Laasgenoemde is reg in die middel van die park en is van TV en selfoonsein gereinig.

 De Hoop Natuurreservaat

86 soogdierspesies, ’n uitgestrekte vlei met waadvoëls, en bedreigde aasvoëls se broeikolonies is maar net die begin. 40% van die ganse noorkapperbevolking kom jaarliks hier draai. Dit maak De Hoop een van die voorste walviskykbestemmings in die wêreld.

By Morukuru Ocean House word De Hoop se natuurwonders met wêreldklas-weelde gekombineer, persoonlike sjef ingesluit! Maar as jy op soek is na iets ’n bietjie meer plat op die aarde, bespreek een van De Hoop Collection se pragtige chalets. Dis net ’n katspoegie van die groot vlei af.

 Oos-Kaap

Dis nie nodig om verswelg te word deur die hordes toeriste in die Addo Olifantpark nie. Mik ’n bietjie verder noord om die wild en see in een skoot vas te vang.

Oceana Beach & Wildlife Reserve noord van Port Alfred is teen ’n 7 km lange privaat strand. Jy kan die renosters, kameelperde én die see vanuit jou suite sien!

Fort D’ Acre Reserve is net ’n entjie verder noord langs die mond van die Groot Visrivier. Buffels en kameelperde tel onder die wildsoorte wat jy tydens ’n wildrit of safari te perd sal teëkom. Hul lapa onder op die strand is ideaal vir walviskyk, skemerkelkies en romantiese pieknieks.

 Isimangaliso Vleilandpark

Hierdie alles-in-een Wêrelderfenisgebied bied ongerepte strande, vleilande én wildreservate. Makakatana Bay Lodge skuil in die hartjie van die vleiland op die oewer van die St Lucia-meer. Van sy suites is so diep in die bos versteek dat seekoeie, rooibokke en vlakvarke soms kom dagsê.

As jy jou kop krap en nie kan besluit of jy met jou volgende vakansie see of Bosveld toe moet mik nie, moenie verder wik nie. Kliek net op die foto wat jou geval sodat jy binnekort in die pad kan val!

Hooffoto: Oceana Beach & Wildlife Reserve (LekkeSlaap)