Nadat Wupperthal, die historiese sendingstasie diep in die Cederberg, op 30 Desember 2018 deur ’n reusebrand verwoes is, was daar nie veel hoop vir die voortbestaan van dié afgeleë nedersetting nie. Ná nuus van die brand, is die hartseer lot van nóg ’n Suid-Afrikaanse kultuurbaken in die media betreur.
Maar Wupperthal het so te sê uit die as herrys. Met ’n besoek daar in April vanjaar was dit duidelik dat die brand allermins die einde van Wupperthal beteken het. Die vooruitsig van die blomseisoen wat hierdie maand blom-vir-blom na die vallei kom, en die vlytige heropbouing van die dorpie, beteken dat daar sekerlik nog groot dinge van dié Morawiese sendingstasie gaan kom.
Wupperthal word via die Agter Pakhuyspas en ’n kronkelende grondpas deur die Biedouwvallei bereik. Dit is in 1830 deur Rynse sendelinge gestig wat die Khoikhoi-families in die vallei en later ook vrygelate slawe by die stasie se daaglikse doen en late betrek het. Buiten die verandering van die Rynse na die Morawiese Kerk in 1865, is Wupperthal sedert sy totstandkoming nog dieselfde, rustige plekkie. Daar waar die pragtige Morawiese kerk gebou is, staan hy nog, die leivoorstelsel se water kabbel nog deur die stofstrate, die basuinkoor speel nog in die kerk, en die grond rondom die dorpie word steeds deur selfonderhoudende inwoners verbou. Soveel te meer rede dat die 2018-brand, wat ten minste tweehonderd Wupperthalers haweloos gelaat het, so skokkend was.
Oom Woeka, oftewel Jurie van Rooy, is 83 en bestuur tans die enigste kafeetjie op die dorp. Sommige dae kan jy lekker vars aartappelskyfies by hom koop, maar op ander dae is daar darem altyd Spookies en Coke! Buiten ’n paar jaar in die Kaap (waarvan hy niks gehou het nie, want die mense daar “kan maak nét wat hulle wil”), is Oom Woeka ’n lewenslange Wupperthaler en die derde generasie op dié sendingstasie. Hy ken die dorpie deur-en-deur en is altyd oop vir ’n geselsie.
Oom Woeka was maar ses of sewe jaar oud toe Strassbergers, die leerskoenfabriek waarin soveel van Wupperthal se mense gewerk het, Clanwilliam toe moes skuif vir logistieke redes. Tog herinner Oom Woeka ons met trots dat die oorsprong van daai skoene Wupperthal is. Vandag is die ou Strassberger-fabriek op die dorp ’n museum, maar ná die brand is dit nog nie operasioneel nie. Oom Woeka het self vir 25 jaar as ’n tipe voorman in die leerhandskoenfabriek op die dorp gewerk voor daar skielik een Vrydagoggend ’n oproep uit Johannesburg was om te sê die handskoene is nie meer nodig nie …
Vinnig skuif die gesprek na die indrukwekkende klokke agter die kerk. Dié kom uit Duitsland en lui vir troues en katkesasie. Destyds, onder Rynse bestuur, het dit ook saans sesuur gelui om aan te dui dat almal moet huis toe gaan, “of julle nou tolgooi, of albasters speel — is kláár.” Deesdae kan ’n mens darem ’n bietjie later rondloop.
Buiten die uitdagings van in so ’n klein, afgeleë dorpie woon, was Wupperthal nog altyd ’n goeie plek om te wees. Die gemeenskap is van sy ontstaan af geleer om selfonderhoudend te wees deur hul eie kos te verbou en vaardighede soos leerlooiery, die maak van skoene, hoede en handskoene aan te leer. Wupperthalers is vir jare as die beste grasdakpakkers in die area beskou. In 1994, met die change-over, soos die oom dit noem, kom daar ’n jong dame van die regering om behoeftebepaling te doen en sê toe vir Oom Woeka sy het nie eintlik nut gehad om soontoe te kom nie, omdat die gemeenskap reeds geïntegreerd en vooruitstrewend was. Amper dertig jaar daarna, met ’n groot brand agter die rug, lyk dinge nie meer heeltemal so rooskleurig nie, tog doen die inwoners wat hulle kan.
Nadat die handskoenfabriek toegemaak het, het Oom Woeka ’n huiswinkeltjie begin en dit later tot ’n kafee uitgebrei. Dit was hoeka tydens sy terugkoms uit die Kaap waar hy kafee-aankope gaan doen het, dat die brand uitgebreek het. Hóé presies die brand ontstaan het, is nie seker nie. Sekeres meen ’n paar mense wou heuning uit ’n boom haal en dat die rook ’n brand veroorsaak het. Die grasdakke waarvoor Wupperthal so bekend is, het die verspreiding van die brand baie maklik gemaak, en die feit dat die naaste brandweerstasie in Clanwilliam is, het beteken dat die dorpie baie uitgelewer was. Wonderbaarlik is die Morawiese Kerk waaraan Wupperthal uitgeken word een van die min geboue in die dorp wat nié gebrand het nie — nie omdat die inwoners die brand geblus het nie, maar omdat die vuur op dié gebou se grasdak vanself doodgegaan het!
Oom Woeka se storie van die dag van die brand is waarskynlik soos baie Wupperthallers s’n. Die R11 000 se aankope wat hy in die Kaap gedoen het, was binne tien minute weg, saam met sy huis en die inhoud daarvan. Al wat oor was, was die paar muntstukke uit sy kasregister en dit het hy gebruik om Coke en ’n paar sakkies tjips en lekkers te koop. Op 82 begin Oom Woeka toe weer van voor af. “Dis partykeer ’n fout met my. Ek vergeet hoe oud ek is. Ek dink, ek kan mos só of dít doen, maar dan vra ek myself: Woeka, wéét jy hoe oud jy is?”
Nes Oom Woeka maar sy sente opgetel en van voor af begin het, het die gemeenskap in Wupperthal ook na ’n paar dae se hartseer, soos die lewe van ’n mens vereis, opgetel en voortgegaan. Met die Morawiese Kerk as grondeienaar, en die regering en die Wes-Kaapse Erfenisdepartement ook deel van die mengsel, was die proses van herstel maar stadig en kompleks.
Oom Woeka se huis was byvoorbeeld halfpad herbou, voor die Erfenisraad hom gestop het om te sê dat hy dit nie op daardie manier mag bou nie. Al was daar niks van die oorspronklike gebou oor nie, moes die heropbouing geskied op grond van ou foto’s en sketse om die historiese karakter van die dorp te behou. Kalk en sand, pleks van sement, is vir die heropbou gebruik, en alhoewel die inwoners ná die brand grasdakke wantrou, moet die geboue grasdakke hê.
“Erfenis is ’n moeilike klomp mense. Hulle is nie ’n grap nie,” sê Oom Woeka. Tog, ondanks die kopsere, staan die dorpie weer poskaart-mooi, ook danksy die Ruperts se befondsing. ’n Bykomende voordeel is dat baie van die geboue nou brandalarms en isolasie tussen die plafon en die gras op die dak het. Nie net is daar voorsiening vir brande gemaak nie, maar dit is as vereiste gestel dat die plaaslike inwoners, wat vir ’n lang ruk in opslaanhuise moes bly, die nodige opleiding kry om self die heropbou van die dorp te behartig. Wupperthal staan dus vandag vír die Wupperthalers en déúr die Wupperthalers.
Die pad na herstel was miskien stadig, en plek-plek sien ’n mens nog, soos aan die geskroeide palmbome, die oorblyfsels van die brand, maar met die blomseisoen en vele toeriste op pad na die streek, is daar baie hoop. Wanneer ons in April hier draai, stop ons op pad na die dorpie by rotstekeninge op die Pakhuyspas, by C. Louis Leipoldt se graf en ry deur die Biedouwvallei se pragtige vistas tot hier waar ons verversings by Oom Woeka se Winkel koop en langs die leivore tot by die kerk stap. Die rustige atmosfeer in die dorp en die pragtige geboue is vir ons genoeg rede om soontoe te kom, maar sou jy ’n toer bespreek deur ’n toeroperateur soos Destination Cederberg, sal jy meer van die dorp se geskiedenis leer en ook miskien ’n donkiekarrit en ’n piekniek meemaak!
Vir ons part is die potensiaal van hierdie heropgeboude dorpie tasbaar en kan ons nie wag om terug te keer om te sien wat volgende van Wupperthal gaan raak nie. Soos Oom Woeka glo: “Jy kan nie hemel toe gaan voor jy Wupperthal toe gekom het nie.” Waarvoor wag jy dan?
Dankie aan Oom Woeka en Destination Cederberg vir hulle tyd om hierdie minder bekende streek en dorpie vir ons te ontsluit.
Alle foto’s: Lisa Croeser en Adriëtte le Roux