Het jy al ooit in die sneeu baljaar of ’n sneeuman met ’n wortelneus gebou? As Suid-Afrikaners is ons met hanteerbare en matige weersomstandighede geseënd wat beteken dat sneeu nie vir ons ’n alledaagse verskynsel is nie. Maar dit sneeu tóg gedurende die winter in sekere dele van ons wonderskone land en LekkeSlaap wys vir jou waar die bekendste sneeukykbestemmings is sodat jy ook dié winter dié toweragtige verskynsel kan ervaar. 

Underberg

KwaZulu-Natal

Foto: The Tin Shack (LekkeSlaap)

Underberg skuil in die Suidelike Drakensberge en dié woelige plaasdorpie is enige natuurliefhebber se droom. Die hoë ligging in die voorheuwels van die uKhahlamba-Drakensberg met die Mzimkhulurivier wat deur die dorpie en omliggende plase kronkel, beteken talle aktiwiteite vir avontuurlustige reisigers. Dié idilliese dorpie, en die naburige Himeville, vorm deel van die Sani Saunter en is een van die beste plekke vir kunsvlieghengel, voetslaan, bergfietsry en natuurlik sneeukyk! Die omliggende sandsteenberge word gedurende die winter met ’n dik, wit kombers toegegooi en die dorpie self ontvang heelwat sneeu op die grond. 

Die beste tyd vir sneeukyk: Junie

Sutherland

Noord-Kaap

Foto: The V8 Guest House (LekkeSlaap)

Sutherland staan nie verniet as een van die koudste dorpe in Suid-Afrika bekend nie! Dié Karoodorp se hoogte bo seespieël het daartoe gelei dat die immergewilde teleskoop, SALT, daar gebou word en elke jaar gedurende die winter stroom mense van heinde en verre om hier tussen niks en nêrens sterre en sneeu te kyk. Dié dorp se stofstrate en die omgewing word met ’n wit laag sneeu bedek en dit sorg vir die mooiste foto’s van die Karoovlaktes wat andersins as ’n dorre landskap bekendstaan. Terwyl julle in dié Karoodorp is, kan julle ook van die geleentheid gebruik maak om van die helderste sterre te sien. Lees gerus hierdie blog om meer oor Sterland en hulle gewilde sterrekyktoere te leer. 

Die beste tyd vir sneeukyk: Augustus

Ceres

Wes-Kaap

Foto: The River Siding (LekkeSlaap)

Ceres lê in ’n pragtige en vrugbare vallei wat deur hoë bergpieke omring word. Die vallei is vir sy ontelbare vrugteboorde bekend en elke jaar gedurende die winter word die berge met sneeu bedek. Sodra die eerste sneeu val, spring omtrent elke Kapenaar met ’n ekstra paar sokkies en ’n dik baadjie in sy of haar voertuig om dié verskynsel in die Bolandse berge te sien. Die Matroosberg Privaat Natuurreservaat lê net sowat dertig kilometer buite Ceres en is sekerlik een van die bekendste sneeukykbestemmings in die Wes-Kaap. Dié reservaat is op ’n plaas en vir die vreesaanjaende 4×4-roete tot by die piek bekend. Dit is die hoogste punt in die Boland en bied natuurlik van die beste sneeukykgeleenthede en hope pret vir die hele gesin. En as jy nie die 4×4-roete wil aanpak nie, is daar oorgenoeg geleentheid om sneeu te sien as jy een van die bergpasse uit die dorp volg. 

Die beste tyd vir sneeukyk: Junie tot Augustus

Clarens

Vrystaat

Foto: Lake Clarens Guest House (LekkeSlaap)

Die kunstenaarsdorpie Clarens skuil in die voorheuwels van die Malutiberge en dis ’n gewilde naweekbestemming vir Gautengers. Die strate is met kunsgalerye, eetplekke, bierbrouerye en boetiekwinkels bespikkel wat vir ure se vermaak sorg. Die omgewing is ook ryk aan natuurskoon en spog met pragtige bergreekse, damme en riviere vir diegene wat op soek is na aktiwiteite wat die hart ’n bietjie vinniger laat klop. Die dorp, met sy kenmerkende sandsteengeboue, is ook naby die Golden Gate Highlands Nasionale Park wat gedurende die winter in ’n wit wonderland omskep word. Daar is verskeie voetslaanroetes in die berge en as julle braaf genoeg is kan julle sommer in die berge oornag. 

Die beste tyd vir sneeukyk: Junie en Julie

Nottingham Road

KwaZulu-Natal

Foto: 25 The Bend Nottingham Road (LekkeSlaap)

Die sprokiesagtige Natalse Middellande spog met een van die bekoorlikste dorpies, Nottingham Road. Dié dorpie tussen die golwende, groen heuwels is naby die voorheuwels van die majestueuse Drakensberge en herinner aan die Engelse platteland met sy ouwêreldse kroeë en restaurante, foreldamme en omliggende plase. Dis een van die koudste plekke in Suid-Afrika en ons kan nie aan ’n beter plek dink om te gaan sneeukyk nie. Die nabyheid aan die Drakensberge beteken dié hoogliggende area kry sommer baie sneeu gedurende die winter.

Die beste tyd vir sneeukyk: Junie en Julie

Rhodes

Oos-Kaap

Foto: Kinmel Guest Farm (LekkeSlaap)

Om in die stil stofstrate van Rhodes rond te wandel sal jou laat voel of jy terug in tyd reis. Dié Oos-Kaapse dorpie spog met Victoriaanse geboue, ’n rustige, plattelandse atmosfeer, ongeëwenaarde natuurskoon en, natuurlik, kunsgalerye. Rhodes, óók bekend as die ski-hoofstad van die land, skuil omtrent téén Lesotho se grens en aan die voet van die hoogste bergpas in Suid-Afrika ─ Sanipas. Die gewilde ski-oord, Tiffindell, is net bo die dorpie teen die hange van Ben McDhui, die hoogste piek in die Kaapland, geleë. Jy kan verseker wees dat die berge om dié stil dorpie gedurende die winter met sneeu bedek gaan wees en soms is die stofstrate ook toe onder die sneeu. 

Die beste tyd vir sneeukyk: Junie tot Augustus

Hogsback

Oos-Kaap

Foto: Fourfields (LekkeSlaap)

Kom kuier in Suid-Afrika se eie feëtjiedorp tussen die berge! Hogsback in die Oos-Kaap het die Engelse skrywer J.R.R. Tolkien geïnspireer om die fantasieboeke The Lord of the Rings te skryf en ons kan verstaan waarom. Dié dorpie voel soos iets uit ’n feëverhaal met die majestueuse, woudagtige Amathole-berge wat dit omring en die mistieke atmosfeer wat daar heers. Die dramatiese landskap en welige berge is hoog bo seespieël en verander gedurende die winter in ’n wit, sneeubedekte area. Die hoogliggende dele van die dorpie ontvang ook gereeld sneeu en dit is dus een van die mooiste plekke om dié verskynsel te gaan bewonder. 

Die beste tyd vir sneeukyk: Junie tot Augustus

Oudtshoorn

Wes-Kaap

Foto: Swartberg Pass Cottages (LekkeSlaap)

Sneeu in die Klein-Karoo klink amper te goed om waar te wees, maar daar val wraggies waar elke jaar gedurende die winter sneeu op die berge rondom Oudtshoorn. Die indrukwekkende Swartberge, wat as die agtergrond van dié dorp spog, is dan sommer spierwit! Die ikoniese Swartbergpas tussen Oudtshoorn en Prins Albert is ’n gewilde roete om te ry wanneer die sneeu val en bied van die mooiste uitsigte oor die omgewing. Dié ongeteerde, kronkelende pas word as een van die mooiste passe in Suid-Afrika beskou en dit is beslis ’n belewenis om op hom te ry. 

Die beste tyd vir sneeukyk: Junie en Julie

Kry solank jou mus, handskoene en stewels gereed en hou die weervoorspellings vir hierdie ongelooflike sneeubestemmings dop sodat jy ook hierdie winter langs ’n sneeuman ’n foto kan neem! 

*Sneeu is nie gewaarborg nie en hang van die weervoorspellings af. 

Hooffoto: Esigodini Cottage (LekkeSlaap)