Sit jy soms in die verkeer en wens dis die eindpunt van ’n reënboog in stede van jou werkplek wat aan die anderkant van die string motors wag? Of wens jy soms dat die rookwolke wat oor die stad hang eerder misnewels was? Wat jou siel miskien nóú nodig het, is ’n kothuis tussen niks en nêrens met net heuwels en silwer damme tussen jou en die horison. 

Dullstroom lê tussen die Laeveld se grasheuwels minder as 3 uur van die Goudstad af. Dié dutjiesdorp is die enigste plek in die ganse Suid-Afrika waar rus, vrede én reënboë gewaarborg is. Rol ’n bietjie af as jy dink hierdie stelling is net so waar soos die storie oor die pot goud aan die einde van die reënboog.

Rusplekke:

Anglers Court het ’n kaggel in die leefarea én die luukse suite!

The Highland Cottage @ Critchley het ’n kroeg, restaurant en ’n reuse-foreldam.

Dullstroom Country Estate se Stone Castle het heelwat wild en dis lekker naby die Birds of Prey Centre.

Verken die heuwels te perd by Olive Bumble.

Raak rustig voor die kaggel of bespreek ’n wildrit by Ilanga Game and Fishing Lodge.

Sit en tuur oor die grasvelde en die damme by Holingsberg Chalet.

Ontspan voor die kaggel by Jock’s Cottages.

Doendinge in Dullstroom:

* Dut – dié woord pas nie net lekker by Dullstroom nie, dis ook die belangrikste doending op ’n wegbreek.

* Voetslaan – maak jou veters vas en verken die Ama Poot Poot-staproete.

* Voëlkyk – pak jou verkyker in en gaan maak ’n draai by die natuurreservaat.

* Bergfietsry – verken die fantastiese heuwels met jou ysterperd.

* Kunsvlieghengel – leer hoe om ’n reënboog te vang of staan net salig langs ’n dam en hou ’n kenner dop.

Reënboogforel: Bigstock

Ons het gedink dis hoogtyd dat Suid-Afrikaanse kunsvlieghengelaars se grootste geheim met die res van die land gedeel word. Gaan soek én kry rus en reënboë in Dullstroom!

 Hooffoto: Spring Valley Retreat