Ná ’n jaar vol uitdagings, verdien ons almal ’n ruskans. Hoewel sommige van ons graag met Jan Tuisbly se karretjie ry, bars die besprekingskalenders van blyplekke in gewilde vakansiedorpe, veral dié naby die see, weer uit hul nate en dit veroorsaak dat ’n vinnige wegbreek of ’n op-die-nippertjie-bespreking ’n onbegonne taak is. Hoe dan gemaak as die vakansiedroom waarna jy al heel jaar verlang lyk asof dit nie ’n realiteit gaan word nie? LekkeSlaap het ’n paar wenke wat kan help.
Daar ís nog verblyf, miskien net op ’n ander plek
Langebaan en Hartenbos, Hermanus en Durban – Suid-Afrikaners het maar hulle witbroodjies as dit by somervakansiedorpe kom. Maar, miskien is dit tyd om ander dorpe te oorweeg. Gooi jy die net ’n bietjie wyer, is daar wél nog tydens die spitsseisoen verblyf beskikbaar ─ net op ander plekke. Pleks daarvan om in ’n spesifieke kusdorp soos Langebaan, Hermanus of Umhlanga na verblyf te soek, gee die res van daardie kusstreek ’n kans en begin jou soektog deur byvoorbeeld onder Weskus, Suidkus Walvisroete of Suidkus te soek. So kan jy sien watter dorpe in die area nog verblyf beskikbaar het. Of nog beter, breek na ’n heel ander deel van die kus, soos die rustiger Wildekus of die kusdorpies van Namakwaland weg.
Kyk rondom jou gunsteling-vakansiedorp
As jy jou nie kan indink om té ver vanaf jou gewone, geliefde vakansiedorp te gaan rus nie, kan jy ook moontlik regkom deur LekkeSlaap se kaartfunksie te gebruik en rondom jou gunsteling-vakansiedorp te soek. Tik eenvoudig die datums van jou vakansie, die aantal gaste en die naam van jou voorkeurdorp in. Sodra jy op die soekblad beland, kies jy die “Sien Kaart”-funksie wat jou sal toelaat om op ’n kaart te kyk watter verblyf rondom die dorp nog beskikbaar is. Al die beskikbare verblyf sal as rooi huisies vertoon. Jy kan ook die kaart verklein om ’n groter radius rondom die dorp te sien.
Die see is nie al plek vir waterpret nie
Dit is verstaanbaar dat ’n mens heel eerste aan die see dink wanneer ’n mens die woord “somervakansie” hoor, maar die see is nie die enigste waterbron wat vir somervermaak kan sorg nie. As jy in die water wou baljaar, hoekom nie ’n blyplek naby ’n rivier of ’n dam oorweeg nie? Op LekkeSlaap kan jy verblyf naby al Suid-Afrika se vernaamste damme soek deur die dam se naam in die soekblokkie in te tik. Jy kan ook die kaartfunksie gebruik om verblyf op ’n rivieroewer te soek waar julle kan tjoepry, roei of hengel, óf jy kan bloot die swembad-filter aansit om seker te maak jy bespreek ’n blyplek met ’n swembad op die perseel.
Verken ’n dorpie wat nog altyd op jou reislys was
Wees avontuurlustig en breek hierdie somer van die “normale vakansie” af weg. As daar ’n dorpie, monument, bergpas of vallei is wat jy nog altyd wou sien, ’n plek waarvan jy gehoor of gelees het wat nog altyd vir jou aanloklik of misterieus geklink het, gaan maak hierdie somervakansie daar ’n draai. So sal jy die skares op die strande vryspring en ’n outentieke vakansie-ervaring hê! Van die Drakensberge tot De Rust, Swellendam tot Steytlerville en Parys tot Prins Albert, Suid-Afrika is vol plekke met hartsmense vol stories en dinge wat jy eenvoudig móét sien en ervaar.
Probeer ’n ander tipe verblyf
Moenie jou aan selfsorgverblyf vasstaar nie. Veral as jy net vir ’n kort tydjie oor die spitsseisoen kan wegbreek, is dit nie nodig om die aftog te blaas omdat jy nié ’n selfsorghuis kan vind nie. B&B’s, oorde, lodges, hotelle en gastehuise kan ook werk. Hierdie tipe verblyf het dikwels ’n uitstekende ligging, bied geriewe om die jongspan te vermaak, het personeel wat die skoonmaakwerk namens jou doen, bied dikwels maaltye op die perseel (of ingesluit by die prys) en kan goeie voorstelle maak oor waar julle op belangrike feesdae in die dorp ’n ete kan bespreek. Dit mag dus vir ’n korter wegbreek meer geskik wees as selfsorgverblyf.
Oorweeg dit om jou datums ’n bietjie aan te skuif
Jy kan die feesseisoen se ergste gedruis en verkeer vryspring as jy eerder nié oor die Nuwejaarstyd wegbreek nie, maar jou datums effens aanskuif en vir later in Januarie verblyf soek. Teen hierdie tyd is daar heelwat meer blyplekke beskikbaar. As jy nie saam met kinders reis nie en dus nie gebonde aan vakansiedatums is nie, maak dit jou opsies nóg meer en kan jy jou verlof insit vir net ná die skole weer begin.
Ontsnap (vir eers) uit die stad
Die doel van vakansie is om ’n bietjie asem te skep, reg? Wat dan van jou groot vakansieplanne vir eers op ys sit en eerder ’n kort asemskepsessie net buite die stad beplan? Sodoende kan jy tog jou batterye herlaai en ’n bietjie afwisseling kry, maar nie jou hele vakansiebegroting op brandstof spandeer nie. LekkeSlaap het nuttigedie “Ontsnap uit die Stad”-funksie wat gaste toelaat om na verblyf in ’n bepaalde radius rondom Suid-Afrika se grootste stede, Kaapstad, Johannesburg en Durban, te soek. Dit maak ’n vinnige uitstappie of middel-van-die-week-wegbreek sommer lekker maklik en sê ook vir jou hoe ver die blyplek van die stad af is! Sodra jy ná jou vinnige wegbreek verfris voel, kan jy jou langer vakansie behoorlik beplan.
Beplan solank vir volgende jaar
Dis reg! As jou droomstrandhuis hierdie jaar deur jou vingers laat glip het, bespreek hom sommer nou al vir volgende se somervakansie. Dink ook vooruit aan die langnaweke in Maart en April, aan ’n wildtuinwegbreek in die middel van die winter en aan die romantiese vakansie vir jou en jou maat. Hoe vroeër jy vir volgende jaar se vakansies beplan, hoe langer het jy tyd om daarna uit te sien, hoe meer plekke is tot jou beskikking én hoe lekkerder is jou jaar.
Vakansie is darem net te lekker om té vinnig moed op te gee. Al lyk jou somervakansie hierdie jaar nie soos wat jy aan die begin gedink het nie, is daar steeds talle moontlikhede vir ’n lekker ruskans as jy net so ’n bietjie meer rondkliek.
Hooffoto: Pier Plesier op LekkeSlaap
Hierdie artikel is oorspronklik deur Adriëtte Esterhuyse geskryf en in 2024 verwerk.
Lees ook:
Toevlugsoorde vir 2 op die Tuinroete
Witwarm binnebraai-wegbreke in die Wes-Kaap
By hiérdie plekke wil LekkeSlapers die graagste bespreek!