“Op die strand, rooi verbrand. Ronde klippies in jou hand. Streepsambreel, ronde bal. Seesproei wat soos motreën op jou kop val,” sing Laurika. As jy graag ‘n plekkie ver van die rooi lywe soek om jou strandhanddoek oop te gooi – loer bietjie hieronder! Ek het ‘n paar versteekte strande ontdek waarvan die magdom vakansiegangers nie weet nie – sjjjt, dis ons geheim.

Kosibaai, KZN

Dié pragstrand is net 2 km van Mosambiek se grens af, wat beteken die helder water wemel van ‘n groot verskeidenheid visspesies.  In Desember besoek karet- en leerskilpaaie die strande om eiers te lê. Die voëllewe is ook volop in die area; die witaasvoël, visuil, witrugnagreier, visvanger en duikers maak by die strand ‘n verskynsel. Jy mag dalk ook ‘n seekoei of twee sien. Die strand vorm deel van ‘n strandmeerreeks op die Wildekus, waar jy kan swem, snorkel en piekniek hou. Let asseblief dat die strand in ‘n hoë risiko malaria-omgewing val. Volwassenes betaal R20, kinders R10 en dit kos R15 per motor.

Koffiebaai, Oos-Kaap

In 1863 het ‘n skip vol koffiebone 250 km suid van Durban gestrand – dit is waar die kusdorpie met 258 bewoners sy naam gekry het. Dié strand lê by die mond van die Nengarivier wat in die Indiese Oseaan uitloop. As jy lus is vir ‘n ontdekkingstog, is die Hole-in-the-Wall, net 8 km suid van Koffiebaai, definitief ‘n besoek werd. Jy kan gratis hier kom baljaar.

Morgansbaai, Oos-Kaap

Hierdie stil strand lê soos ‘n soom teen luisterryke kranse, en is net ‘n uur se ry vanaf Oos-Londen. Jy kan hiér in die veilige strandmeer swem, perdry, gholf speel, voetslaan en visvang. ‘n Alles-in-een-bestemming om almal in die gesin gelukkig te hou. Jy kan op die luilekker strand ontspan teen net R10 per persoon.

Mazeppabaai, Oos-Londen

In dié klein kusdorpie lê daar oopgevlekte strande met interessante wandelroetes en visvangplekke. Wanneer jy die strand besoek kan jy op die sweefbrug na die klein eilandjie teen die strand stap. Mazeppabaai is ook omring deur kranse wat verseker dat daar selfs ‘n wegkruipplekkie is as die wind waai. Dit is gratis om hier oor die rotse te klim en te klouter.

Cintsabaai, Oos-Kaap

Die Wildekus wemel van die kusdorpies en Chinsta is een van hulle. Dié dorpie is by die mond van die Chinstarivier, net 38 km noord-oos vanaf Oos-Londen. Ongerepte strande, woude, duine, strandmere en riviere vorm deel van die omgewing. Die strand is gewild onder branderplankryers en jy kan ook lesse hier neem. Jy kan boonop gratis in die sonnetjie kom bak.

Nature’s Valley, Wes-Kaap

Die vallei lê tussen die Soutrivier en die voet van die Tsitsikammaberge teen die Indiese Oseaan. Hiér kan jy die matige soel weer geniet terwyl jy in die branders baljaar en op die strande lê. Die Grootrivier-strandmeer, wat gewild is onder hengelaars wat hulle lyne wil natmaak, lê ook in die vallei. Jy kan die hele dag hiér baljaar teen R38 per volwassene en R19 per kind.

Tietiesbaai, Wes-Kaap

Tietiesbaai is in die Kaap Columbine-natuurreservaat aan die Weskus, wat oor 263 ha langs die see strek. Dié baai is naby aan Paternoster en spog met die laaste bemande vuurtoring wat in 1936 in Suid-Afrika gebou is. Jy kan onvergeetlike sonsondergange en kamp-ervarings hiér geniet. Jy moet ‘n bewaringsfooi van R15 per volwassene en R11 per kind betaal om die strand te kan besoek.

Kogelbaai, Wes-Kaap

Dié 4 km lange strand is tussen Gordonsbaai en Rooi Els langs Clarensweg (‘n 20 km lange kuspad) geleë. Die hoë berge keer die wind, selfs al waai die Suid-Ooster kan jy steeds hierdie ongerepte strand besoek. Toegang is gratis, tensy jy as ‘n dagbesoeker aan die oord se kant ingaan.

Noordhoek, Wes-Kaap

Dié luisterryke stukkie kus strek vanaf Kommetjie tot Chapmans Peak met die wrak van die Kakapo aan die suidelike punt van die strand. Die kaptein van die skip het gedink hy is by die Kaap van Goeie Hoop en dis toe die skip die rotse tref.   Noordhoek kan maklik van Silwermyn of Houtbaai se kant af bereik word en is ‘n kunstenaarsparadys. Daar is gereeld perderuiters op die strand en branderplankryers in die water. Toegang is gratis.

Struisbaai, Wes-Kaap

Die pragtige vissersdorpie spog met ‘n wonderlike, natuurlike hawe. Dit is ‘n ongerepte strand net 4 km van Kaap Agulhas af – die suidelikste punt van Afrika. Daar is nog baie vissermanne in die dorpie. Jy kan hiér visvang, perdry, voetslaan, paintball speel, vierwielmotorfietsry en duik. Dit kos net R5 om van die hawe se kant af in te gaan en dit is gratis as jy direk op die strand gaan baljaar.

Op watter strand kruip jy gewoonlik weg? Laat weet ons van nog geheime plekke aan ons land se pragtige kus.

Hooffoto: Bo links – Andrew Ashton (Flickr), bo regs – Damien du Toit (Flickr), middel regs – IRegard (Flickr), middel links – Jennifer Klaaste, onder links – Marilyn Johnston, onder regs – Willem van Zyl (Flickr)