Ons het dit goed gedink om ʼn lys van 10 wenke vir ʼn onvergeetlike en gerieflike langpadrit saam te stel wat sal verseker dat jy en jou medepassasiers moed hou op die langpad. Volg dié beproefde wenke vir ‘ʼn onfeilbare langpadrit:
1. Liedjies vir die langpad ‒ lafenis in lirieke:
Maak ʼn lys van lekke saamsingtreffers soos “Klein Tambotieboom” deur Die Heuwels Fantasties, “Life is a Highway” deur Rascal Flatts, “Take it Easy,” deur The Eagles, “Summer of ’69” deur Bryan Adams, “Interstate Love Song,” deur Stone Temple Pilots, “Photograph” deur Nickelback, “I Drove All Night” deur Roy Orbison, “Take Yours, I’ll Take Mine” deur Matthew Mole, en natuurlik “On the Road Again,” deur Willie Nelson. Kies liedjies wat die hele gesin sal vermaak sodat niemand met hulle medepassasiers se gesing geïrriteerd raak nie!
2. ʼn Outydse padkaart ‒ moenie die spoor byster raak nie:
Moenie die nut van ʼn gedrukte padkaart onderskat nie ‒ jy weet nooit wanneer jou gunsteling tegnologiese apparaatjie jou dalk in die steek gaan laat nie. Op dié wyse kan jy jou medepassasiers inspan om jou op die regte spoor te hou (mits hulle betroubaar is in daardie opsig!). As kind was ek ook mal daaroor om te kyk watter dorpie volgende op die roete is!
3. ʼn Noodhulpkissie ‒ genees jou kwale langs die pad:
ʼn Lang gesittery in ʼn beknopte ruimte is nog minder lekker as jy naar of opgeblaas voel. Hoofpyn en dehidrasie is ook lastige moedbrekers as jy nog 8 uur se langpadreis het wat voorlê. Pak die nodige medisyne/pille en selfs pleisters in om seker te maak jy’s nie in die knyp terwyl jy reis nie.
4. Die regte uitrusting ‒ reis op jou gemak:
Moenie sit en sweet in jou splinternuwe kraaghemp of maagpyn kry van daai nuwe jeans wat so knap sit nie. Jou gunsteling, wye sweetpakbroek en T-hemp is waarskynlik die beste opsies vir ʼn lang motorreis. Pak maar ʼn ekstra uitrusting onder jou sitplek in vir wanneer julle stilhou en jy jou bekommer oor wat vreemdes van jou gewaad gaan dink!
5. ʼn Kamera ‒ voed jou nostalgie:
My filosofie oor foto’s was nog altyd: Daar is nie so iets soos té veel foto’s nie. Hoe anders wil jy dan nou na jare nostalgies terugkyk na die goeie ou dae? Maak seker jy vang onvergeetlike herinneringe met foto’s vas, al beteken dit dat jy soms jou medepassasiers gaan irriteer. Hulle sal na die tyd bly wees dat jy inisiatief geneem het met jou prettige kiekies van besienswaardighede en van hulle self!
6. Karspeletjies ‒ ʼn kuur vir gryse verveling:
Buiten die ou gunstelingkarspeletjies soos “Ek sien met my kleine ogie (I Spy)”, die nommerplaatspeletjie en “20 Questions” is daar deesdae oulike mini-weergawes van die gewildste bordspeletjies: Van Twister tot Scrabble! Jy kan jouself en jou medepassasiers ure lank besig hou sonder om met ongemaklike groot speelborde binne die motor te sukkel.
Lees hiér verder oor 10 lekke karspeletjies…
7. ʼn Vullisdrommetjie ‒ verbloem die rompslomp:
ʼn Netjiese motor is ʼn moet vir ʼn gerieflike reis, daarom is dit slim om ʼn nuttige vuilgoeddrommetjie vir die langpad in te pak. Gebruik ʼn ontbytgraanhouer soos dié een sodat jy nie elke keer langs die pad hoef te stop om van jou vullis ontslae te raak nie.
8. Kos vir die siel ‒ blus jou lus vir kitskos:
Peuselhappies is sonder twyfel my geliefkoosde deel van roadtrip. Daar was nog nooit ʼn beter verskoning om ʼn kilogram biltong en droëwors en sakke droëvrugte te koop as ʼn reis op die langpad nie – njam!
ʼn Oulike idee is ook om vir elke passasier ʼn kospakkie te gee sodat boetie en sussie nie baklei oor die laaste stukkie droëwors nie. Maak seker jy pak waterbottels ook in sodat jy nie by elke pitstop onnodig geld op koeldrank mors nie.
Kliek hiér vir 4 gesondheidswenke vir die langpad…
9. Die spaarsleutel ‒ sleutel tot sukses:
Op ʼn ernstige noot ‒ dra sommer jou motor se spaarsleutel om jou nek of veilig in ʼn betroubare baadjiesak rond vir in geval een van jou geliefde medepassasiers (of jy self, natuurlik!) nalatig die sleutel in die motor toesluit. Na ure se gesit in ʼn warm motor gebeur dit vinnig dat jy gretig uit jou motor spring en die deur toeklap om ʼn bietjie vars lug in te asem, en net te laat besef dat jy jou sleutel agter gelaat het.
10. Die regte houding ‒ kla is ʼn handvol wind:
As jy slegs ʼn enkele wenk van die inskrywing moet onthou is dit nou dié een. Ek wil amper sê jy kan enige van die potensiële hindernisse op jou reis oorkom as jy met die regte houding in jou motor klim en jou gereed maak vir die langpad. Dit is só maklik om te kla as die pad lank raak, maar probeer dit vermy: Onthou, die reis kan soms net soveel pret as die bestemming self wees!
Kliek hiér vir nog langpadwenke!