Totius het begin preek in ons taal,
Van Wyk Louw en Breytenbach dig dik stukke in ons taal,
Karen Zoid raak plesierig in ons taal,
En Jack Parow rap rof en onbeskof in ons taal.
Vir ’n eertydse “kombuistaal” wat minder as ’n honderd jaar oud is, het Afrikaans binne ’n kort tydjie baie ver gekom. Ter viering van Internasionale Moedertaaldag het ek besluit om ’n paar interessante feite oor ons geliefde taal met julle te deel. Langs die pad spoeg-en-plak ek ook sommer ’n paar van my gunsteling-verse van ons grootste kulturele geeste.
‘n Nuwe taal skiet wortel:
– In die 1700’s is Afrikaans se eerste, onsekere treetjies uit die Nederlandse hoofstroom met minagting deur die Kaaskoppe bejeën.
– ’n Handjie vol goedhartige Nederlanders het neutraal daarna verwys as Kaaps Hollands, maar die hooghartige massas het dit Geradbraakt-, Gebroke- of Onbeschaafd Hollands genoem.
– Alhoewel Afrikaans hoofsaaklik uit Nederlands bestaan, het ons voorsate ’n hele paar woorde by die Maleiers, Khoi-San, Portugese en Afrikane geleen.
Daar is egter niks geradbraak, gebroke of onbeskaafd aan Eugene Marais se mooiste gedig nie:
Die dans van die reën
Lied van die vioolspeler; Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn
O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die Grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
Ons neem en ons gee:
– ’n Paar van die woorde wat ons by ander tale leen: “blatjang” (Maleisies), “boikot” (Kaptein Boycott was ’n Ierse agent wat die eerste keer “geboikot” is), “gogga” (Khoi-San), “fundi” (Xhosa), “pajamas” (Persies), “kraal” (Portugees), “piesang” (Maleisies), en “tjop” (Engels).
– ’n Paar van die woorde wat die Engelse Suid-Afrikaners by ons leen: “bakkie”, “braai”, “naartjie”, “lekker” en “tekkies”.
– ’n Paar van die woorde wat die Britte by ons leen: “aardvark”, “trek”, “spoor”, “veld” en “boomslang”.
Die man met die lang kep se Afrikaans is nie altyd so suiwer nie, maar as hy by die Engelse woordbank gaan aanklop, kry hy altyd die regte woord!
Om nie-nie te sê, is nie noodwendig ‘n slegte ding nie
– Benewens ’n paar grysaards in obskure dorpies in die hartjie van Nederland en ’n hele paar Wes-Vlaminge is ons die enigste mense wat die dubbelnegatief gebruik. Akademici krap op die oomblik nog ’n bietjie kop oor die oorsprong van hierdie gebruik – miskien het ons dit by die San-mense geleer of miskien was dit die Franse se invloed.
– Gert Vlok Nel gebruik hierdie seldsame taalverskynsel so mooi in sy tydlose treffer Beautiful in Beaufort-Wes: “en ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie / nie meer so iets doen nie, / nooit ooit weer vir jou soen nie”
Die maer man met die groen trui is nou wel nie so verknog aan die dubbelnegatief nie, maar sy meesterskap is onbestrede:
4 Januarie 1974
skuins in die liefde ’n visioen wat die oë ontroer:
Bonnievale die son loop sonder kieries of toue soos reuk
deur die land die aarde rooi en die hemel blou en wolke
wit vlieënde tapyte boomsingertjies maak glinsterend geluid
kluite het skaduwees die tamaties is sagte harte Breërivier
’n slentertong wat diep fluister oor spoelklip en palmiet
agter die rant gooi Happy Valley se mense hul klanke
teen die rantjies vas my oom Nick staan in sy tuin
en kou die gras en streel sy pampoene hy kyk oor
wat daar uit sy aarde groei en tel sy seëninge een vir
een my grootvader se heerlike stof lê warm in die heuwels
God sit en droom in ‘n mikboom met bril en boek en ‘n beker
koffie Hy kyk oor sy handmerke oor die boorde
die waterlope die varingtuine die muildiere die wolke
die stof en van pure blydksap knip Hy sy oë!
– Breyten Breytenbach
Ons taal is nie terminaal nie – haar bloeddruk is 120/80!
– Doemprofete hou daarvan om Engelse spoke op te jaag wat fluister dat ons geliefde taal op haar sterfbed lê en roggel.
– Gelukkig steek daar net soveel waarheid in hierdie profesieë as in die Y2K-profesie waarmee die dwase ons in die 90’s bang gemaak het en die Maja-profesie wat die einde van die wêreld vir 21 Desember 2012 geskeduleer het.
– In vergelyking met ’n paar jaar gelede bars die Afrikaanse kultuurskat uit sy nate: ’n ongekende hoeveelheid Afrikaanse boeke word deesdae gepubliseer, talentvolle jongmense dig en rap uit volle bors in hulle moedertaal, as jy hou van elektroniese musiek of rock is daar baie CD’s waarna jy kan luister en dis onmoontlik om vir langer as 5 minute in Musica se Afrikaanse afdeling rond te dwaal sonder dat daar ’n nuwe Nicholis Louw- of Ray Dylan-CD op die rakke verskyn.
Kyk net hoe pragtig dig Pieter Odendaal (25) in ons taal:
Ek wil hierdie geleentheid graag gebruik
om jou DNS te bedank
vir sy pragtige selfvertalings,
die selle wat vergader
om jou te bou,
die hoë konsentrasie melanien
wat jou oë spoelklippe maak,
die keratien wat hier
en daar haartjies kweek,
jou porieë wat bedwelmend
fluister, hul asems hoendervleis.
Laat ek dan ook sommer nou
jou bene bedank vir hulle ondersteuning –
sonder hulle sou jou spiere nie soos druiwe
in die wingerd van jou lyf kon hang nie;
en jou tendons, daardie onvolprese kabels,
wat jou bewegings glad laat geskied
en my snags sleg laat slaap:
die ritme van jou stap,
die grammatika van jou ver, ver hande
en die wegdraai van jou gesig
soos die laaste reël van ’n gedig.
Die Bybel is die hoeksteen van ons taal
– Ons moet nooit vergeet wie die grootste werk verrig het om Afrikaans behoorlik te vestig nie – die taalreuse wat die vertaling van Die Bybel in 1933 voltooi het.
– Hierdie grootse vertaling verskyn net 8 jaar nadat Afrikaans as ’n regte taal deur die Suid-Afrikaanse regering erken word.
– As mens so na ons diepste liedjieboer se woorde luister, is dit duidelik dat hy goed vertroud was met hierdie pragtige vertaling:
Welkom o stille nag van vrede,
onder die suiderkruis,
wyl stemme uit die ou verlede
oor sterrevelde ruis
Kerfees kom, Kersfees kom –
gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
in hierdie land, o Heer.
Hoor jy hoe sag die klokke beier
In eeue oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye
vertel die ou verhaal.
Kerfees kom, Kersfees kom –
gee aan God die eer.
Skenk ons ’n helder Somerkersfees
in hierdie land, o Heer.
– Koos du Plessis