Elke goeie storie het ’n temalied, óf elke goeie lied begin met ’n storie, want die pad raak lank en die gedagtes dwaal. Sommige liedjies word op die pad Laeveld toe geskryf.
Saterdagoggend 06:00 terwyl my huismaats die vorige aand se braai probeer afslaap, staan ek en my oornagtas reg om die pad na Barberton saam met my pa aan te durf. Ons val douvoordag in die pad, want teen middagete het ek ’n werksonderhoud in die Laeveld. Dis absoluut waansin, maar my tyd in Johannesburg het verstryk en ’n onderhoud by Hoërskool Barberton in dié daisy-dorpie sal my dalk van die stad se rookagtige gif verlos. Al is ek gebore en getoë in die Goudstad, is ’n nuwe begin op ’n vreemde plek dalk al wat ek nodig het. Aan die anderkant is ek maar skrikkerig om ’n onderwyser in ’n stofdorpie te wees, wat op ’n enkelbed in die skoolkoshuis moet slaap.
Waar is Barberton? En, bestaan vissersdorpies in die Bosveld? Is daar net barbers, of is daar beter vis om te vang? My pa bring my tydens ons reis op hoogte van die dorp en hy laat my goed verstaan dat níks soms ook lekker is. Daar is egter ’n paar dinge waarvoor Barberton bekend is, deel my pa my mee: Die bekende rooigousblom op die Bloubul-rugbytrui is van Barberton afkomstig en staan as die Barbertonse daisy bekend.
In die Laeveld, duskant Nelspruit, lê Barberton met tonne karakter. Dié dorpie is in 1884 gestig toe goud deur Fred en Henry Barber, saam met hul neef, Graham, in die omgewing ontdek is. Op 24 Julie, 1884 het die goudkommissaris, David Wilson, die rif met gin gedoop omdat vonkelwyn nie beskikbaar was nie en Barberton het sy naam gekry.
Sedertdien is daar heelwat vonkelwyn, brandewyn en alle tipes wyn in die kroeë beskikbaar, maar ek is seker die dames op die dorp geniet nou en dan nog ’n gin ’n tonic op die stoep as die Bosveldson sak.
Soos ons vroegoggend uit Johannesburg ry onderweg na die sogenaamde gin-rivier, vang die landskap se drastiese verandering my oog. Ek is nie ’n kunskenner nie, maar die kleurskakerings word ’n effense bruin en die duidelike tekens van Bosveld beroof radiostasies van hul sein. Op die N4 skuins duskant Middelburg is ons eerste stilhouplek die welbekende forelplaas, Milly’s. Die meeste reisigers op pad na Mpumalanga klop by dié padstal aan om vars, vakuumverpakte forel te koop wat as padkos dien. Reisigers wat nie te haastig is nie, vertoef gewoonlik ’n wyle by die restaurant en jy kan plaaslike konfyt by die padstal aanskaf. Die forel se sout nasmaak talm nog terwyl ek wegry en ’n koue bier wat in die Bosveld wag, is ’n idilliese vooruitsig.
Vir ons Gautengers is verkeer niks nuut nie en dit dryf die meeste mense na ’n dubbel-gin ’n tonic. Ons nader Machadodorp by die N4-afdraai en tref effense kerkbasaarverkeer ─ niks buitensporig nie en geen teken van padwoede soos ek dit ken nie. As jy vreedsame verkeer wil ervaar, kom woon die kerkbasaar by. Dalk kry jy nog die geleentheid om ’n pannekoek te eet terwyl jy ry.
Machadodorp is in 1894 deur Hendrik Potgieter se familie gestig en dit was ’n toevlugsoord vir Suid-Afrikaners tydens die Anglo-Boereoorlog met die indring van die Britse mag onder leiding van lord Roberts. Vir mense wat van klein dorpies hou, het Machadodorp beslis ’n paar stories om te vertel. En oom Jeff van The Grey’s Inn Hotel beloof ’n koue lemonade en tonne geskiedenis oor dié spoorlyndorpie.
Van hier af word die dorpies al kleiner en die gin-pryse al laer. Vir die eerste keer kan jy ’n sak hout langs die pad koop wat nie nat is nie. Kort nadat ons die basaarverkeer verlaat, kry ek uiteindelik kans om aan die onderhoud te dink en om myself op moontlike vrae voor te berei. ’n Goeie begin sal wees om seker te maak ons is nog betyds en soos die tyd en datum op die SMS aandui, is ons betyds, héél betyds. Inteendeel, ’n hele week te vroeg! Ek verkondig die nuus aan my pa en ons albei besef dis nou te laat om om te draai. Daar en dan besluit ons om ’n naweek in die Bosveld deur te bring.
Kort voor lank is die Barberton-bordjie skuins voor my en daar is níks. Net ’n paar straatwandelaars en Lize Beekman se musiek op die radio. Daar is níks en dis mooi ─ die níks is mooi. Eenvoud met baie geskiedenis en boonop ’n klomp dinge om te doen. Sal ’n enkelbed in die skoolkoshuis werklik só erg wees? ’n Klomp wandelroetes oor naweke, vierwielmotorfietsritte, vriendelike mense en talle kroegstories sal my definitief met liedjieskryf en kortverhale kan help. Merkwerk sal baie lekker wees en as die kinders stout is kan ek hulle loslaat in die Krugerwildtuin wat om die draai is. Hoë geboue dring nie my spasie binne nie.
Liedjies vloei en ek dink ek is vir eers klaar gesoek.
Die stofdorpie herinner ons aan baie dinge ─ hoe dié wêreld propvol geskiedenis vandag nog in sy eenvoudigste vorm bly leef en dat jy nog ín die geskiedenis kan leef. Barberton is bekend vir verskeie hotelle wat sedert die stigtingsjare bestaan en een van dié besonderse geboue wat vandag nog in die oorspronklike vorm leef, is die Fountain Baths Guest Cottages. Ek het met Esmarie gesels wat nou aan die stuur van dié besondere gebou staan. Ná ’n klompie jare in die Middeooste het sy en haar man in Barberton kom skuiling soek. Ek vra haar oor die dorp en haar eerste reaksie is dat sy Suid-Afrika se groen somers gemis het en dit híér kom kry het. Sy vertel verder van die onlangse besluit om die Barberton Makhonjwa-berge tot ’n Wêrelderfenisgebied te verklaar. Dié besluit spreek van die karakter wat in Barberton te vinde is.
Al die geskiedenis voer my weg na ’n ander era en ek besef dat ons nog nie blyplek het nie. My pa is nie bekommerd nie, of dit kom nie so voor nie en hy wys my gou ’n hele paar opsies in die nabye omgewing. Nelspruit is naby, maar ek wil juis uit ’n besige stad ontsnap, so ek weet ons moet verby hou tot in Malelane. Toe ons ons weer kry is ons deur die Krugerwildtuin se Krokodilbrug-hek op pad na ons oornagbestemming in Marlothpark. Ek het nie besef daar is so baie mense wat al uit die stadskloue ontsnap het nie, soveel só dat hulle ’n bosdorp reg langs die Kruger geskep het, Marlothpark ─ ’n bosdorp met ’n winkel én ’n vulstasie.
Ons kyk die Curriebeker-wedstryd tussen die Haaie en die W.P. in die kroeg en ’n Windhoek Lager laat my besef dat ek nie regtig wil huis toe gaan nie. Hoe verlaat ’n mens ’n plek wat jou naam onthou?
’n Plek met ’n klankbaan vol kitare en rymwoorde, draaie en grense.
As ek nou terugkyk is my onderhoud in Barberton die beste onderhoud wat ek nooit gehad het nie.
Dis Sondagoggend en ons tasse is gepak. Die pad terug Johannesburg toe lê nog voor. Dis ’n pad vol fietse op die Long Tompas net buite Sabie. Fietse is altyd iewers heen op pad ─ hulle neem dalk langer as die ou in die Volkswagen, maar hulle storie is fiks. Dié spesifieke fiets sal my altyd bybly: Dis nie ’n fêncy fiets met skokbrekers nie en dit het ook nie ’n raam van koolstofvesel nie. Die fiets is eenvoudig en swaargelaai met ’n hele trek op die saal. Die man op die fiets mik Lydenburg toe en ons steek hom gou verby. Sy roete daarná bly nou ’n mite. Hy jaag nie oor die pas nie, maar kom eerder soms tot stilstand om te kyk na besetenes soos óns wat sperdatums jaag.
Op pad terug besef ek hoeveel karakter in ons land se kleiner, onbekende plekke steek.
’n Naweek is veels te kort om alles gedoen te kry en as jy jou weer kry het ure se gesels met mense en ’n klomp gin-slukkies in ’n stuk skryfwerk verander wat op die agtersitplek en in jou woordeskat gevlek is.
Ons reis is nou spekulasie – wat kon gebeur het, is ver verwyderd. Dis nou ’n plek om heen te ontsnap as die werk begin pla en al bly ek in die Kaap gaan ek gereeld terug na dié herinnering.
Hooffoto: Altus Booysen