Waarskuwing: Die lees van hierdie blog kan lei tot lang afstande op ‘n bergfietssaal in berg- en stofpaaie in die hoekies en draaitjies van Suid-Afrika.

Die anatomie van ‘n bergfietsryer kan vergelyk word met iets uit ‘n wetenskapsfiksiefilm: ‘n mens-masjien-ding wat leef om te ontsnap van die moderne teerpaaie en brommasjiene wat sy natuurlike omgewing binnedring en oorneem.

Die anatomie is eenvoudig: 2 dik wiele wat byt + pedaalarms om op te dans + ‘n dun saaltjie om hom aan te spoor + ‘n valhelm om kop te stamp + bietjie spoeg + baie magic + die durf en daad van ‘n bosratel = die alles-of-niks hart/long- en spierenjin wat links-regs-links-regs in somerhitte en winterkoue op grondpad en berg-op trap … omdat dit lekke is!

Heil die bergfietsryer; die duiwel van die bergpad!

‘n Bergfietsryer se kuite sal jou intimideer, sy sonbril- en sokkie-tên sal jou laat giggel, sy geskeerde bene sal ‘n skoonheidsmodel tart en sy boudjies … wel dis immers waaroor Anton Goosen sing. Hy is die ware baster tussen ‘n jaagjakkals, spiertier en avontuurvraat, maar ook die rustigheid self. ‘n Meer eko-bewuste sportliefhebber sal jy ook nie sommer vind nie.

Kyk, die verskil tussen ‘n berg- en resiesfietsryer is soms groter as die verskil tussen … wel, die verskil tussen ‘n berg- en ‘n resiesfiets. Verskillende bergfietsryers kry jy egter ook. Party dra so min as moontlik toerusting, terwyl ander ‘n skatkis van allerlei toestelle saamry, maar tog het hulle 2 dinge in gemeen: ‘n liefde vir die buitelug en ‘n interne leksikon van al wat ‘n kwaai bergfietsroete is.

SONY DSC

Of jy nou in Noordwes se boswêreld rondry met doringboomtakke wat jou laat koes, of in die wynlande van die Wes-Kaap met ‘n glasie Chenin Blanc voor jy terugdraai huis toe, daar is oral ‘n groot verskeidenheid van bergfietsroetes wat jou toelaat om heeltemal uit te haak terwyl jy op die saal is. Party roetes is perfek vir kinders in kleurvolle en oorgroot valhelms om agterna te ry, ander is weer soos ‘n rissiepit – nié vir bangbroeke nie, en moet liefs met genoeg beplanning (en oefening!) aangedurf word. As jy buite op jou fiets wil gaan speel, is daar te veel roetes om van te kies. Suid-Afrika is werklik bergfietshemel! Trap naby die kus of deel die stofpad met ander wilde(r) diere. (Wees gewaarsku, van dié wildspaaie kan dalk net té wild wees.)

As jy opsoek is na ‘n nuwe bergfietsroete of eerder ‘n ander een vir bietjie afwisseling, is een van hierdie opsies dalk net die plek vir jou en jou trapfiets.

Let asseblief daarop dat ‘n toegangsfooi by sommige roetes gevra kan word.

Naby Pretoria:

  • * Groenkloof Natuurreservaat – 20 km lange hardegatenkelspoor. Moeilikheidsgraad: tegnies.
  • * Fountains Valley – ‘n 20 km kronkelende enkelspoor, klipperige en geteerde paaie vir die intermediêre ryer.
  • * Voortrekkermonument – Maklik tot moeilike roetes van 3-10 km in die natuurreservaat by die Voortrekkermonument met Pretoria en Johannesburg in die agtergrond.
  • * Hennops Bergfietsroete – ‘n Roete van 15 km vir beginner en intermediêre ryers wat langs die Hennopsriviver begin. Fietsryers het ook toegang tot die piekniekplek met swembaddens en braaifasiliteite beskikbaar is. ‘n Uitstappie vir die hele gesin.

Naby Johannesburg:

  • * Wiegie van die Mensdom – Met ‘n area wat strek van die Sterkfonteingrotte tot die Pilanesberge, sluit die Wiegie ietsie van Gauteng en die Noordwes in en is ook ‘n Wêrelderfenisgebied. ‘n Maklike tot intermediêre 27 km sirkelroete van grond- en teerpaaie.
  • * Mount Grace Country House (Magaliesberge) – ‘n Roete van 10 km wat om die rif van die Magaliesberg strek. Moeilikheidsgraad: tegnies.
  • * Braamfonteinspruit – ‘n Maklik tot intermediêre roete met verskeie afstande. Dié roete van meestal enkelspoor is baie toeganklik en veral geskik vir ontspanningsritte.

Naby Rustenbrug en Sun City:

  • * Hartbeeshoek Natuurreservaat is geleë op 300 ha bosveld. Dis ‘n spesiale plek met ikoniese doringbome en wonderlike bosveldvoëllewe. Moeilikheidsgraad: intermediêr
  • * Mountain Sanctuary Park Bergfietsroetes – ‘n Park in die Magaliesberg in privaatbesit waarop ‘n 12 km bergfietsroete spesiaal gemaak is. Dit is ook die tuiste van die bekende jaarlikse Magalies Monster Bergfietswedren. Moeilikheidsgraad: intermediêr – moeilik.

Naby Nelspruit:

  • * Mankele MTB park – Berge, riviere en fonteine. Dié roete is intermediêr tot baie tegnies en vir daai ekstra lekker is daar eindelose plankpaaie en brûe om oor-en-oor uit te trap.
  • * Goldrush MTB trail – Mount Aderson Natuurreservaat bied van die beste enkelspoorroetes in die land. Hierdie een is vir almal wat ‘n intermediêre roete tot die uiterste soek. Taai terrein, valleie met kristalhelder strome en lekke styl hellings. Vat hom, flaffie!

Naby Durban:

  • * Virginia Plaas Bergfietsroete – Die plaas bied kort en lang roetes (2,5 – 6 km) en kan dalk net bergfietsparadys wees. Geniet die pragtige plaasuitsigte in die beginners tot resiesroetes. ‘n Baie goeie roete om jou uithouvermoë te oefen. Moeilikheidsgraad: beginner tot intermediêr
  • * Camp Shaka Bergfietsroete – ‘n Veeleisende roete wat jou sal laat blaas en sweet, veral omdat die enigste roete uit Camp Shaka “op” is – berg-op. Vir die toeris is daar ‘n 35 km eenrigtingpad na Balto, terwyl daar daar vir die taaier ryer ‘n 7 km Jeep-pad is. Moelikheidsgraad: intermediêr

Naby Richardsbaai:

  • * Die St. Lucia Vleilandpark bergfietsroetes – 250, 000 ha mere, eilande en riviere maak van die St. Lucia vleilandpark ‘n wêrelderfenisgebied. Die natuurlike habitat van die Nylkrokodil, asook 800 seekoeie, ‘n magdom voëls en wild. Die park bied geleentheid vir bergfietsryers om by Valsbaai en St. Lucia Riviermond te laat waai. 15 – 25 km van sandpadjies, grond- en teerpaaie. Moeilikheidsgraad: intermediêr

In die Karoo:

  • * Hakskeen Pan – Hakskeen Pan behoort aan die Mier-gemeenskap, ‘n plaaslike gemeenskap wat die area deel met Klipkol en Groot Mier in die hartjie daarvan. Die Pan is ‘n maklike roete en kan maklik met die roete van die Lost City van die Kalahari gekombineer word.
  • * Lost City van die Kalahari – As jy nog altyd op ‘n soutpan wou ry, is dit die plek vir jou! ‘n Roete vir beginners en intermediêre ryers.

Naby Port Elizabeth:

  • * Jbay Fietspark – Dié park bied iets vir die hele familie – wandelroetes, speelareas vir kinders en ‘n koffiewinkel. Daai is 5 verskillende roetes om van te kies, afhangend van jou fiksheidsvlak en ervaring. Moeilikheidsgraad: beginner.

Naby Plettenbergbaai:

  • * Tsitsikamma/Stormsrivier rivierroete – Tsitsikamma is meer as net ‘n pragtige, ruig area. Dit is ‘n plek met rotsagtige pieke en geheime strande – ‘n bergfietsryer se droom. Die Stormsrivier rivierroete volg die ou nasioinale pad deur die Tsitsikamma Nasionalepark en die Stormsrivierpas. ‘n Grondpad lei jou deur die luisterryke woud met sy geelhout-, stinkhout- en kershoutbome. ‘n 22 – 55 km sirkelroete. Moeilikheidsgraad: intermediêr.

Naby Knysna:

  • * Karoo to Coast – Hierdie roete word ook jaarliks in September met die bekende Karoo to Coast Bergfietswedren gery, maar kan enige tyd van die jaar aangevat word vir ‘n “ontspanningsrit “en is vir die bergfietsryer met doringdraad op sy bors. ‘n Roete van 100 km wat in Uniondale wegspring en die Ou Wapad tussen Uniondale en Avontuur insluit, asook die Prins Alfredpas en Kom-se-Pad deur die Gouna-woud. Na die 4 – 8 ure op die saal (eina!) is jy uiteindelik in Knysna waar daar nog soveel ander dinge is om te doen. Aanhouer wen! Moeilikheidsgraad: moeilik.
  • * Goukamma Strandroete – Die Goukamma Natuurreservaat en Marinebeskermingsgebied naby Sedgefield is geleë in die pragtige Tuinroete op die Suidkus. Kyk, hierdie roete is so moeilik soos hoërgraad matriekwiskunde. As jy nie van sand hou nie, en ook nie van die idee hou dat jy dalk jou fiets gaan moet stoot nie, is dié roete nie vir jou nie. Die uitsig maak dit darem die stoot werd.

showmecoza (Copy)

Naby George:

  • * Montagu-pas – ‘n Asemrowende grondpadroete in die Montagu-pas wat George en Herold verbind. Ry die 30 km pad as ‘n eenrigtingroete of heen-en-weer. Moeilikheidsgraad: intermediêr

Naby Stellenbosch:

  • * Hemel en Aarde – Geleë in die Hemel en Aarde vallei met vinnige enkelspoorroetes. Fantastiese uitsigte, wynlande en bergpaaie. Verskeie afstande van 5, 15, 25 en 35 km. Moeilikheidsgraad: Intermediêr tot moeilik.
  • * Jonkershoek – Jy het nog nie in die boland fietsgery as jy nie in Jonkershoek gery het nie. Benewens die sirkelroete in die Jonkershoekberg, kan jy jou ook gate uit geniet in die meer tegniese enkelspoorpadjies tussen die fynbos. Jonekershoek is ‘n kommersiële woud wat gedurig verander. Weet maar dat ‘n roete wat jy nou ry oor 2 jaar heeltemal anders gaan lyk. Afstand: 10-45 km. Moeilikheidsgraad: intermediêr tot tegnies.

Specialized tire testing Jonkershoek, Stellenbosch

Naby Grabouw:

  • *Oak Valley – Hierdie roete sal ‘n glimlag op jou bakkies sit. ‘n Netwerk van roetes gebou deur wynmaker Pieter Visser en moet blykbaar bo-aan ‘n bergfietsryer se lysie van gunstelling roetes wees. Enkelspoor deur die plaas en hout brûe oor grensdrade laat jou trap en trap … en trap. Moeilikheidsgraad: maklik tot moeilik.

Naby Kaapstad:

  • * Tokaiwoud – Met hierdie enkelspoor-dikwielparadys is jou granny gear definitief jou beste pel. ‘n Groot gunsteling onder plaaslike fietsryers wat verskeie ry-afstande bied. Moeilikheidsgraad: intermediêr tot baie tegnies.
  • * Kaappunt Natuurreservaat – ‘n Maklike teerpadroete wat deur die suidelikste punt van die Kaapse skiereiland kronkel. Sommige mense sê dis selfs mooier as Kaap Agulhas. Die landskap kraai hier koning.

Suid-Afrika is werklik ‘n bergfietshemel! Hou daai valhelm op en lekke trap.