Op ’n snikhete Januarie-middag wag ek, Schalk en AB, ons ervare veldgids, gretig langs ’n watergat om een van die gevaarlikste diere op aarde op kamera vas te lê ─ ’n seekoei. Ek het nog altyd gewonder waarom die Engelse idioom “it’s just the tip of the iceberg” in Afrikaans nie “dis net die punt van die ysberg” is nie, maar eerder “dis net die oortjies van die seekoei”. Dié somersdag tydens ’n wildrit by die Garden Route Game Lodge langs die N2 net buite Albertinia, word hierdie idioom ’n werklikheid: Al wat dié gevreesde waterdier se teenwoordigheid verklap, is twee ronde oortjies wat bo die wateroppervlak uitsteek en ’n paar neusgate wat die veldstilte elke nou en dan met ’n aardige snork verbreek. ’n Trop eende waggel doodluiters water se kant toe om ’n middagswemsessie te geniet. Ons hou ons asems op en die kamera gereed … niks. Vandag is beslis nie die dag om dié grys gedierte te gewaar nie. Ook maar goed, want behoede jou as jy ooit tussen ’n seekoei en sy heiligdom beland!

Links: Seekoeie lyk miskien oulik, maar moet beslis nie mee gemors word nie. Regs: Ek en AB is reg vir ons wildrit. (foto: Schalk Schreuder)

Aan die voet van die Langeberge op ’n drieduisend hektaar grootte stuk aarde, ervaar ek my heel eerste wildrit. Ons veldgids, AB, ken die omgewing soos sy handpalm en werk al meer as dertien jaar by die lodge. Hy vertel ons van die vier wildritte wat daagliks aangebied word ─ om 11:00 en 14:00 vir dagbesoekers en ’n oggend- en skemerwildrit vir oornaggaste, wat met ’n boma-braai afgesluit word. Hy geniet dit veral as Nederlandse of Duitse toeriste kom wildkyk omdat hulle versoek dat hy Afrikaans praat.

By Garden Route Game Lodge word die skemerwildritte met ’n bomabraai afgesluit.

Ons klim in die oop Landrover met ’n seildak wat ons teen die skroeiende son beskerm en vat die grondpad veld in. Klippe knars onder die wildvoertuig se wiele en die wind sing deur die seildak terwyl ons teen ’n slakkepas beweeg. AB klim uit om ’n draadhek of twee oop te maak en ’n paar minute later kry ons die eerste wild onder oë ─ Oom Olifant!

Garden Route Game Lodge spog met die Groot Vyf en ons hou ’n entjie vanaf die twee olifantbulle, Selati en Moya, stil. Hulle staan luilekker en wieg in die middagson. Ons neem foto’s en kyk hoe hulle hul slurpe swaai en kommerloos wei.

Ons ry verder op die ruwe grondpad en kom ’n klompie sebras met vulletjies teë. Volgens AB is die antwoord op die alombekende vraag watter kleur ’n sebra werklik is, dat hulle swart met wit strepe is. Hy skerts ook lekker en sê dat sebras die enigste diere is wat strepie vir strepie gebore word.

Volgens AB is die antwoord op die alombekende vraag watter kleur ’n sebra werklik is, dat hulle swart met wit strepe is. Hy skerts ook lekker en sê dat sebras die enigste diere is wat strepie vir strepie gebore word.

Ons sien springbokke, ’n volstruis en ’n aantal ander wildsbokke. Ou Skillie suiker oor die pad om in ’n skadukol te gaan dut en ons vergaap ons deurgaans aan die uitsig ─ ’n mens kan werklik myle ver sien!

Daar is skielik weer ’n hek voor ons en AB vra of ons die leeukamp wil binnegaan. Wie kan dan nou die kans om Koning Leeu te aanskou laat verbygaan? Hy maak die hek versigtig agter ons toe en ons volg die grondpad tussen fynbos en ruigtes deur. Hy noem dat ander veldgidse die leeus vroeër die dag opgemerk het en nadat ons ’n paar draaie in die kamp gery het, sê hy: “O, daar is hulle!” Ongelooflik! Ons is meters van dié reuse-katte af, wat ongestoord onder ’n bos lê en sluimer. AB vertel dat hulle bykans agtien uur per dag slaap en nie eens die Landrover se gekreun in die wind of ’n vinnige toet laat dié maanhare ’n ooglit roer nie. Ons staar nog ’n rukkie verwonderd en verlaat dan die leeukamp met die hek wat sorgvuldig agter ons gesluit word.

Koning (en Koningin) Leeu is ook by Garden Route Game Lodge te sien.

Terug in die groot kamp wys AB vars jagluiperdspore teen die pad uit ─ dié pragkatte het onlangs kleintjies gekry en daar is sowat agt van hulle in die reservaat. Ons hou duimvas met die hoop om ’n kolletjie of tien te siene te kry, maar AB merk ’n stofwolk in die verte op en breek ons moed: “Daar is ’n trop buffels daar anderkant ─ al die diere is bang vir hulle.”

’n Paar honderd meter verder stop ons langs die Groot Vyf se groot menere. Die buffels loer met kwaai ogies na ons en van naderby kan ’n mens verstaan waarom dié diere soveel vrees by die diereryk inboesem: Hul massiewe horings krul boontoe en sal alles voor die voet gaffel. As daai kolossale tropdiere hul visier op ’n slagoffer instel en hom begin jaag, kom hy nie lewendig daarvanaf nie!

’n Buffel beruik ons wildvoertuig. (foto: Schalk Schreuder)

Ons wou baie graag gaan kyk hoe die kameelperde hoog in die takke aan grasgroen boomblare knibbel, maar AB deel ons mee dat die kameelperdkamp die verste in die reservaat is en dit omtrent ’n twee uur lange rit is net om hulle te gaan groet. Ons sal maar ’n volgende keer by die langnekke kom kuier!

Buiten die leersame en onvergeetlike ondervinding tydens die wildrit saam met AB, word ons op ’n toer van die lodge se geriewe geneem. Malcolm, die algemene bestuurder, vertel ons hoe die lodge oor die afgelope paar jaar van ’n tipiese Afrika-lodge in ’n luukse oase omskep is. Hoewel hulle baie buitelandse besoekers kry, verwelkom hulle ook die plaaslike mark. Die restaurant, wat ’n honderd gaste kan akkommodeer, is daagliks oop vir die publiek en dagbesoekers kan ook ’n spa-sessie bespreek. Ons loer by die spa in waar ons deur ’n paar suikerbekkies, wat by die deur rondfladder, begroet word en die maseerkamer met ’n uitsig oor die rustige reservaat trek dadelik my aandag.

Suikerbekkies baljaar in die spa se lampskerms asof dit hulle nessies is (foto: Schalk Schreuder) en die lodge is ’n treffende grasdak-gebou waar dagbesoekers ook ’n maaltyd of masseersessie kan inwerk.

Die lodge bied verskeie verblyfopsies, van standaard- en gesinskamers, luukse lodge-kamers en bos-chalets met uitsigte oor die vallei en watergat, tot ’n wittebrood-chalet en ’n luukse gesinsuite met ’n swembadjie op die dek. Malcolm wys ons al die opsies en ek wens ek kon hierdie blog op die bos-chalet se houtstoep skryf waar die natuurklanke en oneindige uitsig oor die grasgroen vallei tot by die Langeberge my beslis sou inspireer.

Dis net ’n paar van die verblyfopsies wat Garden Route Game Lodge bied.

Die jongspan word ook glad nie afgeskeep nie en vermaak sluit swembaddens, ’n speelarea met ’n glyplank, swaaie en selfs ’n houtsebratjie om op te wieg, begeleide staproetes en voëlkyksessies in. Ons kyk hoe ’n paar kleuters in die vlakwater plas, terwyl Ma onder ’n sonsambreel sit en haar aandag kort-kort met ’n “kyk, Mamma!” vereis word. Ons maak ’n vinnige draai in die geskenkwinkeltjie by die ontvangsarea waar ’n mens ’n rits aandenkings, soos yskasmagnete met die Groot Vyf op, ’n wollerige olifantjie of ’n leeupoppie met woeste maanhare kan aanskaf.

Die swembad is die ideale plek om af te koel en die geskenkwinkeltjie bied oulike aandenkings om jou besoek te verewig. (foto’s: Schalk Schreuder)

Helaas kom ons besoek by die Garden Route Game Lodge tot ’n einde en ons ry stadig weg. Ons kry weer die grootvoete langs die N2 te sien waar hulle steeds die veld se vrede geniet en ons wuif vaarwel. Vanaand slaap ons in die historiese Albertinia Hotel en môre wag ’n opwindende dag in Stilbaai!

By Garden Route Game Lodge kyk besoekers wild, maar die wild loer beslis terug ─ hier bekyk nuuskierige kameelperde die lodge se luukse eenhede.

Baie dankie aan die Garden Route Game Lodge vir die gasvryheid en die voorreg om ’n eksklusiewe wildrit te kon ervaar!

_________________________________

Hooffoto en alle ander foto’s verkry vanaf Garden Route Game Lodge se profiel op LekkeSlaap.co.za, tensy anders vermeld.