Maak vir jou ’n lekke Weskusmixtape met Zirk Bergh, Andries Vermeulen, Worsie Visser en Rooies se liedjies en dalk ’n paar van Tolla se stories van ouds – en mik Weskus toe. Die kreefseisoen is amper hier!

Daar is darem niks so lekker soos ’n sonskyndag aan die Kaapse kus, ’n gietysterpotjie op die kole en vars kreefstert wat met heerlike ryk, suurlemoenbotter bedruip is nie! Of die sagte wit stertvleis of lekker krakerige pote jou gunsteling is, ons gee vir jou die lekke’ste wenke vir dié kreefseisoen wat (voorlopig) op 15 November begin.

Hiér is LekkeSlaap se kitsgids met alles wat jy moet weet.

3

1. Kry jou permit

Dis belangrik om te onthou dat jy kan help om die volhoubaarheid van dié lekkerny te bewaar deur by die wet te hou en slegs by geregistreerde vissermanne kreef te koop. Ons het met Shaheen Moolla, ’n kenner op die gebied van visserye in Suid-Afrika gesels en hy het bietjie raad gegee oor waar om jou permit vir die  2015/2016-seisoen te kry.

“Maak seker jy kry jou ontspanningsvisvangpermit vóór jy begin kreef duik. Permitte is beskikbaar by enige poskantoor of die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se kantoor in Foreshore, Kaapstad.”

2. Waar mág jy kreef koop?

Shaheen sê verder: “Ontspanningsvissers mag glad nie kreef verkoop nie. Dis ’n oortreding van die wet, maar as jy wel lus is vir kreefstert, en eerder groot supermarkte wil vermy, is daar verskeie kleiner kommersiële vissermanne wat wettig kreef mag verkoop. Om seker te maak jou verskaffer is geregistreer, vra om sy visvangpermit te sien. ’n Geldige permit sal sy naam, die area waar hy mag visvang en sy boot se naam en kwota aandui.

“Indien hy nie vir jou sy geldige permit kan wys nie, moenie by hom koop nie! Jy het ook altyd ’n kwitansie nodig om te bewys dat jy die kreef wettig gekoop het.” (As jy afgetrek word deur verkeerspolisie of vissery-kontrolebeamptes, moet jy dit kan bewys!).

“As ’n reël is dit veiliger om nié by straatverkopers kreef te koop nie, veral nie as hulle jou net so R5 of R10 per kreefstert vra nie!  Maak seker jy sien ’n afskrif van sy verkoopspermit en, die belangrikste, vra altyd vir ’n kwitansie om te sê hoeveel krewe jy gekoop het en hoeveel jy daarvoor betaal het. Maak ook seker jy skryf die verkoopsman se besonderhede neer.”

COFFEE (1)

3. Waar mag jy kreef vang?

“Ons kreefbronne is ernstig uitgeput. Net sowat 2% van die totale historiese biomassa krewe is in ons oseane oor. Soos met enige korrupsie, bedrog en misdaad, moet ons self ook ons deel doen om die onwettige handel van kreef, lynvis en perlemoen stop te sit. Die onwettige handel van vis dra ook by tot ander sosiale kwale soos dwelmhandel en prostitusie. Kom ons doen ons deel deur nié onwettige kreef te koop nie – selfs al is dit baie goedkoper!”

Verder sê Shaheen dis belangrik om te weet dat kreef slegs op sekere plekke gevang mag word. Oor die algemeen, van Port Nolloth in die Noord-Kaap tot by Buffeljags, maar daar is ook heelwat mariene bewareas tussenin, waaronder Bettysbaai, Langebaan en die Tafelberg Nasionale Park Mariene Bewarea.

Jy sal saam met jou permit ’n kaart kry wat presies aandui waar jy wettig kreef mag vang.

4

4. Wanneer mag jy kreef vang?

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het vandeesweek die nuwe kreefseisoen vir sportvissers bekend gemaak.

Volgens Palesa Mokomele, woordvoerder vir die departement, is ’n doelwit in 2011 gestel om die biomassa, van veral die manlike Weskuskreef, jaarliks te laat groei. Om dit reg te kry is sekere beperkings ingestel.

Dit beteken dat daar vanjaar minder dae is waarop sportvissers kreef mag vang as verlede jaar.

Kreefseisoen
Jy mag slegs op hierdie datums kreef vang.

5. Wat moet jy nog weet?

Verder sê die departement dat die volgende (volgens die nuwe regulasies) in ag geneem moet word:

– Jy moet ouer as 12 jaar wees om ’n permit te kan kry.
– Die permit kos R94 (R7 aansoekfooi en R87 vir die permit self).
– Jou permit is geldig vir die volle seisoen.
–  Jy mag slegs tussen 08:00 en 16:00 kreef vang.
– Jy mag nie meer as 4 krewe per dag vang nie.
– Elke kreef moet groter as 80 mm in ruglengte wees.
– Jy mag nie met ’n ontspanningspermit kreef verkoop nie.
– Kreef moet heel gevang en vervoer word.
– ’n Maksimum van 20 krewe word per voertuig toegelaat, mits die permithouers wat dit gevang het ook in die voertuig, boot of vliegtuig is tydens vervoer en hul permitte kan toon.

2

6. Waar is die lekke’ste plekke om te bly?

LekkeSlaap het verskeie akkommodasie-opsies aan die kreef-kus. Besoek gerus Lambertsbaai, Kommetjie, Paternoster, Jacobsbaai of Pringlebaai. En dan is daar ook Hondeklipbaai tot by Port Nolloth in die Noord-Kaap.

7. En as jy nie self lus is vir kreef vang nie?

Daar is verskeie restaurante wat wyd bekend is vir die vars kreef op hulle spyskaarte. Besoek gerus die Seekombuis in Paternoster, die Muisbosskerm in Lambertsbaai of die Strandloper in Langebaan, om maar net ’n paar te noem.

Terwyl jy aan ’n kreefstert smul kan jy jou familie vermaak met dié lekke tongknoper – “Die kreef kleef aan die krap en die krap kleef aan die kreef.”

1

Hier is ’n paar lekke “Het jy geweet?”-feite:

1. Het jy geweet? Alhoewel ons gereeld na kreef as “crayfish” verwys in Engels, is dit eintlik verkeerd? “Crayfish” kom meestal in riviere en moerasse in die VSA voor. Die krewe wat ons ken is “Rock Lobsters” wat in die Atlantiese Oseaan woon, veral aan Suid-Afrika en Australië se kus. Dit is dié kallant waaraan ons Suid-Afrikaners smul as ons vakansie hou by die see.

2. Het jy geweet? Die seisoen sluit gewoonlik elke jaar op die laaste dag van Paasfees. (Die voorlopige sluitingsdatum is dus 28 Maart 2016).

3. Het jy geweet? Jy mag slegs 4 krewe per persoon per dag gedurende die kreefseisoen uithaal en die kreef se rugdop moet ten minste 80 mm lank wees.

4. Het jy geweet? Jy mag nie kreef vang met skubaduiktoerusting nie, maar slegs deur te snorkel met ’n duikbril en paddavoete.

5. Het jy geweet? Jy kan jou permit by enige poskantoor of die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se kantore in Foreshore, Kaapstad, koop.

Bronne: Shaheen Moolla is ’n konsultant in die visvangbedryf. Lees gerus sy blog.

Ander bronne: My Cape Town en SouthAfrica.net.

Foto’s: Moira West en Ankia Wolf.