Daar waar die protea aan die uiterste, suidwestelike punt van Afrika blom, daar sal jy die Kaapse Floraryk vind. Dié pragtige flora strek vanaf Clanwilliam in die Wes-Kaap tot Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Toe Jan en sy manne in die 16de eeu hier aan die Kaap geland het, het hulle die immergroen struike wat die Kaap vol gestaan het ’n naam gegee.
Die Kaapse Floraryk is die kleinste van die ses floraryke in die wêreld, maar ook die mees diverse een. ’n Breë woestynbelt (die Karoo) skei dié fantastiese floraryk van die res van Suid-Afrika en ook Afrika. Fynbos maak die grootste deel van die plantspesies in die suidelike floraryk uit en is ’n groot trekpleister vir besoekers van regoor die wêreld.
Alhoewel die Kaapse fynbos maar net 6% van Suid-Afrika se oppervlakte beslaan, sluit dit meer as die helfte van al die plantspesies in wat in ons land voorkom. Hiér is meer inheemse plantespesies as in enige ander plek van die selfde grootte op die aarde. Van die 9 000 spesies fynbos in die suidelike streek kom 70% daarvan nêrens anders in die wêreld voor nie.
Fynbos kom hoofsaaklik op berge en in die kusgebiede voor en word verdeel in 4 algemene groeivorme: protea-agtige fynbos, riet-agtige fynbos, heide-fynbos en aster-agtige fynbos. Daar is ongeveer 100 proteasoorte, 600 soorte erika’s en 1 000 bolplantspesies wat in dié groepe verdeel word.
Fynbos kom in die Wes-Kaap voor omdat dié streek oor die noodsaaklike toestande beskik wat die fynbos nodig het om te floreer: (1) Die mediterreense klimaat bring reën in die winter en droogte in die somer. (2) Die suidooste-wind waai in die somer en in die winter draai dit sodat die noordweste-wind waai. (3) Tafelberg en die Kaapse Skiereiland het sandsteen-agtige grond wat nie baie voedingstowwe bevat nie – die fynbos verkies dit so. (4) Die laaste, en seker die treffendste, element wat fynbos benodig om te floreer is veldbrande.
Veldbrande is ’n natuurlike deel van fynbos se bestaan en moet ideaal gesproke elke 12 tot 15 jaar plaasvind. Gedurende die 12 tot 15 jaar tussen die noodsaaklike veldbrande, bou elke plant ‘n reserwebron van sade op. Die fynbossade word in harde doppe geberg en miere dra dit dan weg na hulle ondergrondse netwerk van tonnels toe waar hulle dan die doppe eet. Die sade word op dié manier geplant en ook beskut teen die vlamme en knaagdiere wat die sade dalk kan opeet.
Dit mag dalk donker en leeg lyk na ’n veldbrand, maar diep onder die grond is die sade al klaar besig om te groei en ontwikkel. Die hitte en rook wat saam met die veldbrand oor die oppervlak versprei, veroorsaak dat die sade wat diep onder die grond gebêre is, ontkiem. Die nuwe fynbosplantjies begin dan groei. Die veldbrand het ook al die ou, harde plante uit die weg geruim sodat daar plek is vir die nuwe, brose bossies en blommetjies. Die brandlelie is die eerste teken van lewe wat soos ’n feniks uit die as verrys. En kort nadat die eerste reën geval het begin die landskap weer groen vertoon en die diertjies trek weer terug.
Nou hoe nou gemaak as jy die fynbos wil gaan kyk? Besoek die Wes-Kaap en stap in een van die verskeie bewaringsgebiede wat strek vanaf Clanwilliam tot Port Elizabeth.
Dié park strek oor die Kaapse Skiereiland en sluit Seinheuwel, Leeukop, Tafelberg, Constantiaberg, Kirstenbosch, Steenbergpark, Tokaiwoud, Silwermyn, Scarborough en Simonstad in. Silwermyn en Kaappunt het onlangs ‘n reuse veldbrand ervaar wat sowat 4 000+ ha fynbos weggebrand het. Alhoewel dit baie hartseer is om die landskap so donker en verlate te sien na die brand, moet ons in gedagte hou dat dit deel is van fynbos se lewensiklus. Kyk uit vir die brandlelies wat een van die dae gaan kop uitsteek. Kyk hiér hoe het dit net 7 dae na die brand by Silwermyn gelyk.
Die reservaat is naby aan Clanwilliam geleë, sowat 300 km noord van Kaapstad. Jy kan hier rotsklim, kamp en die verskeie staproetes verken.
Die bewaringsgebied van 30 608 ha lê net noord van Tulbagh en bevat watervalle, swempoele, riviere en ’n groot verskeidenheid bergflora.
Jonkershoek-natuurreservaat (11 000 ha), Assegaaibosch-natuurreservaat (204 ha), Hottentots-Holland-natuurreservaat en die Kogelberg-natuurreservaat (3 000 ha) vorm deel van die groter Boland-bergkompleks. Dit is hoofsaaklik die bewaringsgebiede wat die Kaap en die Overberg skei. ‘n Groot gedeelte van die Jonkershoek-natuurreservaat het ook onlangs gebrand.
Die natuurreservaat is in die Overberg geleë en strek oor 34 000 ha. Dit bevat ook ’n marienebewaringsgebied.
Die wildernisarea is 20 km noord van Heidelberg en 14 200 ha fynbos en valleibos word hier bewaar.
Die Swartberg-, Gamkapoort- en Towerkop-natuurreservate is deel van dié bergkompleks. Net die Swartberg-natuurreservaat, wat oor 121 000 ha strek, is oop vir die publiek. Swartberg-natuurreservaat lê tussen Prins Albert en Oudtshoorn.
Dié gebied is een van die grootste bewaringsgebiede in die land (500 000 ha) en bevat die Baviaanskloof-, Groenendal- en Formosa-natuurreservate.