Teen die welige hange van die Paarlberg, aan die voet van die Afrikaanse Taalmonument, lê ʼn skat met die naam Diamant Estate. Drie eeue het verloop sedert die eerste strukture hier opgerig is, en deesdae is dié opgeknapte geboue ʼn gastehuis met sjiek trou- en funksie-venue. Na ʼn hele naweek hier te danke aan Hatch Communication en MT Ferreira, Diamant se algemene bestuurder, kan ek eerstehands getuig, dié diamant het beslis die potensiaal om elke meisie se beste vriend te word!

1

Diamant se herehuis weerspieël ʼn mengsel van Kaap-Hollandse en Victoriaanse argitektuur. Hierdie pragtige gebou is taamlik onlangs opgeknap met soliede dakbalke van hout en ondervloerse verhitting. Alles waarmee die verblyf ingerig is, is uitgekies om uiterste gemak en estetiese bevrediging aan oordeelkundige besoekers te verskaf.

Die herehuis voorsien vierster-geriewe in drie luukse kamers met lugversorging en groot hemelbeddens of antieke koningingrootte-beddens. Elkeen van hierdie voortreflike kamers het dubbelwasbakeenhede en ondervloerse verhitting. Dís mos nou bederf!

Die slaapkamers en hul hemelbeddens laat jou soos ʼn koninklike voel as jy saans na ʼn bedrywige dag tussen die komberse wegsak. Stel jou voor om die aand voor of na jou troue jou kop hier neer te lê! Die sprokiesagtige bruid-suite is besonder spesiaal en kan ook dien as ʼn aantrekkamer vir bruide en strooimeisies. Die hemelbed, dubbelwasbakke, lieflike, diep pad en ruim stort maak dit natuurlik ook ʼn droombestemming vir ʼn romantiese wegbreek of wittebrood.

2

Die Pionierhuis, reg langsaan die herehuis, het agt standaard kamers, twee met dubbelbeddens en ses met twee enkelbeddens elk. Al die kamers het groot en suite-badkamers. Dit is ideaal vir ʼn bruid of bruidegom se uitgebreide familie, spanbou-geleenthede, enige ander funksie, of paartjies wat smag na ʼn romantiese naweek in ʼn lieflike blyplek met ʼn rustige atmosfeer en ʼn asemrowende uitsig!

Om dit alles te kroon is ontbyt by Diamant ʼn groot bederf! Daar is verskeie opsies om van te kies, onbeperkte koffie en sap en ʼn perfekte balans tussen ʼn Kontinentale ontbyt en ʼn heilsame Engelse ontbyt. Dís moes nou hoe ʼn mens die dag reg begin!

3

Die plaas self se ligging is ook skilderagtig — Diamant skuil teen die hange van die prentjiemooi Paarlberg en het ʼn panoramiese uitsig oor die wynlande se lappieskombers. Dié uitsig bied ʼn skilderagtige agtergrond vir fotosessies en teen die goue uur is die hele vallei getooi in skakerings van goud, rooi, groen en bruin. Albei huise se terrasse kyk ook uit oor die landskap, so jy kan ontbyt of ʼn skemerkelkie geniet terwyl jy dié skoonheid aanskou.

4

Diamant Estate is ʼn ongelooflike trou-venue aangesien alles wat nodig is vir ʼn droomtroue op die perseel self is — van ʼn kapelletjie tot akkommodasie vir die hele trougevolg!

Dié pragtige kapel het plek vir 100 gaste. Dit weerspieël ʼn ouwêreldse bekoring en die verhitte vloere, houtbalke en groot kandelare skep ʼn gesellige atmosfeer.
Diamant se hoof-funksielokaal was lank terug ʼn wynkelder. Die ou Kaap-Hollandse styl is gekombineer met moderne geriewe en afwerkings soos ʼn reuse kaggel, groot glasdeure, toonbanke van oniks-steen en sagte rusbanke. Daar is ook twee binnehowe, ʼn vuurput en plek vir 140 gaste.
Een van die onthaal-venue se gesellige binnehowe.
Die venue se kroeg is alles behalwe kort en klein! Hier is geen sprake van trougaste wat moet toustaan om ʼn drankie in die hande te kry nie.

Diamant Estate is duidelik sonder twyfel ʼn bestemming wat sal deug vir ʼn groot verskeidenheid smake en geleenthede! Of jy nou die Paarl en wynlande verken, ʼn groepswegbreek beplan, of jou troue reël, ons sal beslis Diamant Estate aanbeveel! Hulle het ons ʼn hele naweek lank van kop tot tone bederf en sal definitief dieselfde vir jou doen. Weereens dankie aan MT en Hatch Communication wat ons naweek absoluut een vir die boeke gemaak het! Kliek hier en bespreek sommer nou!