Die piepklein dorpie Nieu-Bethesda lê weggesteek in Suid-Afrika se mooie Karoo. Al wat jy nodig het vir ’n interessante, ongewone avontuur na dié oulike, versteekte plekkie is ’n ou padkaart, ’n paar note in jou beursie en ’n motor met ’n vol tenk.
Met die intrapslag laat die stowwerige straatjies en ’n ernstige tekort aan verkeersligte jou onmiddelik voel asof jy ’n deur na die verlede ontdek het. Daar is iets aan die oop ruimtes van die Karoo wat ’n mens aantrek en Nieu-Bethesda is geen uitsondering nie. Tog is daar heelwat meer aan dié dorpie as wat mens met die eerste oogopslag sou raai. Daar is geheime onder die klippe en raaisels onder die roesbruin-grond. Hier kan mens egter die bogenoemde in die Karoo-son raaksien as jy net deeglik genoeg kyk. LekkeSlaap het namens jou gaan rondsnuffel om van Nieu-Bethesda se skatte bloot te lê.
Die wêreldbekende Uilhuis, waar Helen Martins grootgeword en gesterf het, lyk soos enige ander tipiese Karoohuisie. Met sy growwe stene en wit mure lyk dié langwerpige platdakhuisie, met die eerste oogopslag, doodgewoon. Dít is nou tot jy die voëlhok vol steenuile raaksien wat die stoepie vol staan. Die storie van die Uilhuis is al vertel, oorvertel, uitgerafel en verdraai, te veel kere om te noem. Al die weergawes begin egter by die dood van Helen Martins se ouers. Na haar pa se dood in 1945 het sy begin om haar ouerhuis drasties te verander. Sy het groter vensters ingesit en glasskerfies gebruik om nog meer lig en kleur aan die huis te verleen. Martins het glasbottels versamel en dit met koffiemeule fyngemaal. Nadat 6 of 7 koffiemeule die gees gegee het, het sy maar ’n stamper en vysel gebruik. Sy het die skerwe teen die mure vasgeplak met ’n mengsel van verf en vernis totdat die kamers in die Uilhuis in verskillende skakerings begin glinster het. Stadig maar seker het die hele huis ’n metamorfose ondergaan. Sy het son-motiewe begin gebruik en later het haar kuns oorgespoel tot in die stowwerige erf waar die een sementbeeldhouwerk na die ander verrys het. Vandag is dit propvol menige interessante figure. Tussen al die uile skuil daar ook 14 meerminne, 4 sfinkse, 12 piramiedes, 49 kamele, 18 lammertjies, 7 kameelperde en legio menslike en godsdienstige figure.
Die geheime van die Uilhuis lê diep verborge en soos die jare aanstap verkrummel die waarheid soos Martins se pragtige beeldhouwerke. Die werke word met sorg onderhou en so versigtig moontlik gerestoureer, maar nietemin verweer van die stukke en ander het bloot soos mis voor die son verdwyn.
Helen Martins, oorlede in 1976, se buitestaander-kuns is so ongewoon dat mense vandag nog van heinde en verre na Nieu-Bethesda kom om dit te sien. Die eienaardige manier waarop sy selfmoord gepleeg het en die redes vir dié drastiese stap, dra by tot die misterie van die Uilhuis. Helen Martins het haar eie lewe geneem. Daar is verskillende stories wat draai rondom die rede hiervoor, en daar word selfs beweer dat sy bytsoda, gemeng met verpoeierde glas, gedrink het. Een makabere weergawe beweer dat die jarelange blootstelling aan verpoeierde glas haar oë begin aantas het. Uit ’n maniese vrees vir blind word het Martins toe eerder haar eie lewe geneem.
Sy het, kort voor haar dood in ‘n brief aan haar vriendin Jill Wenman gesê dat die léwe die probleem is, en nie die dood nie. Sy was bang om “lewend dood te wees”. Met ander woorde, blind en nie in staat om verder kuns te skep nie. Sy het fyngemaalde glas met bytsoda gemeng en op dié manier probeer om ’n kunswerk van haar dood te maak. Met die poeierglas as bestanddeel het sy lig probeer werp op die donkerte wat die dood oor haar kreatiwiteit sou gooi. Haar as is in die Camel Yard, haar erf vol beeldhouwerke, gestrooi. Tussen haar interpretasies van godsdienstige figure, kuns, uile en die skrif teen die heining wat sê “This is my world”, het sy uiteindelik rus gevind.
Maar die Uilhuis is nie al wat skuil op hierdie stukkie aarde nie. As jy jouself klaar verkyk het aan die blywende herinneringe van Helen Martins, kan jy ’n draai gaan maak by Ganora Gasteplaas vir ’n egte fossiel-belewenis. Die James Kitching fossielsentrum vertel die storie van Suid-Afrika 50 miljoen jaar voordat dinosourusse hier rondgewaggel het. Drie lewensgrootte fossiel-modelle en Gerhard Marx se skilderye van die prehistoriese landskap staan in die sentrum. Daar is ook begeleide toere na rotse waarin fossiele versteen het. Ganora Gasteplaas het ook ’n uiters interessante fossielmuseum. Die meeste van die fossiele in dié museum is nét daar op Ganora ontdek en is sowat 280 miljoen jaar oud. Die Compasia dela Harpi-fossiel in hierdie museum is die enigste volledige voorbeeld van hierdie spesifieke visfossiel ter wêreld. Daar is ook ’n staproete waarlangs nog fossiele in die rotse en gedroogde modder verberg is.
In Nieu-Bethesda kabbel die water steeds in die watervore van ouds en elke erf kry sy leibeurt. As jy nou wil oorlog maak, moet jy iemand se beurt steel! Dié vars water vloei van die platorand agter die dorpie af. Trek gerus jou stapskoene aan en gaan kyk hoe die helder water uit die oog loop.
Die dorpie het ’n hele paar koffiewinkels en ’n kroeg waar mens rustig kan sit en kyk hoe die Nieu-Bethesda-verkeer verby kruie. En met “verkeer” bedoel ons natuurlik nie motors nie, maar wel beeste, ganse, donkies, perde en die dorp se troeteldiere! Aangesien diere nie juis gesels nie, kan jy die dorp se geskiedenis en stories by Jakob van Staden hoor. Van Staden bly sy hele lewe lank al op Nieu-Bethesda en weet genoeg om jou aandag vir die volle 20 minute te hou wat dit hom neem om jou, skud-skud, op sy donkiekarretjie deur die dorpie te karwei. The Brewery and Two Goats Deli brou die heerlikste Karoobier. En hier sit André Cilliers bobaas brood-en-kaas-borde voor saam met sy eie “craft”-biere. Dié plekkie is welbekend en jy moet definitief hier inloer as jy ’n draai in Nieu-Bethesda maak.
Nieu-Bethesda begrawe haar geheime so diep onder die roesbruin aarde dat mens nooit sou kon hoop om alles te verstaan of weer te gee nie. Die dorpie het dalk beroemd geword as die tuiste van Helen Martins se Uilhuis, maar daar is heelwat Karoojuwele hier wat net so kosbaar is … Die strate sonder verkeersligte, die eindelose, skitterende naghemel, die fonteine en die geskiedenis wat in die rotse versteen het. Klop aan by een van dié lekke blyplekke se mooi deure en laat dié afgeleë dorpie jou herinner waarom dit so moeilik is om te vergeet.
Hier is vir jou ’n lang lys van lekke lêplekke in Nieu-Bethesda as jy die misterie van Miss Helen self wil ondersoek en ’n paar foto’s om jou ’n voorsmakie te gee.
Wees gewaarsku: Nieu-Bethesda is nét so goed weggesteek soos die waarheid agter haar stories. In hierdie wêreld is ’n GPS meer van ’n hindernis as ’n hulpmiddel. So as jy nie onnodig baie grondpad wil ry nie, kry maar vir jou ’n padkaart en maak jou beursie en petroltenk vol voor jy vertrek aangesien daar geen OTM’s, kaartgeriewe of petrolstasies op die dorp is nie. Let wel, daar is wel vir die laaste 5 km na die dorpie ’n grondpad, maar as mens die interessantste dele van Suid-Afrika wil verken, moet jy mos maar bietjie hare op jou tande hê!
Hooffoto: South African Tourism: Nieu-Bethesda, Karoo, Eastern Cape, South Africa (Flickr)